Sunday 7 August 2016

Die sambreel

Genesis 28:15  Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan

Een middag toe ek die bus huis toe moet haal, reën dit onophoudelik.  Teen my natuur in, leen ek ‘n sambreel. 

Ek klim op die bus.  Elkeen probeer so min as moontlik spasie opneem. Jy sit gewoonlik met alles op jou skoot.  Die sambreel is ‘n bietjie lank, so ek plaas dit langs my.  Wanneer jy naby die punt kom waar jy moet uitklim, staan jy gewoonlik op en beweeg vorentoe waar jy die knoppie kan druk om aan te dui jy wil uitklim.   Eers toe ek buite die bus die sagte reën op my voel, besef ek die sambreel is steeds op die bus.  

Omdat dit nie my sambreel is nie, weet ek, ek moet dit kry of vervang.  Ek skakel die busdiens die volgende dag.  Hulle gee vir my ‘n verwysingsnommer en ‘n telefoonnommer om te skakel.  Die nommer bly beset.  Dis ‘n deurskynende plastiek sambreel wat die persoon gebruik as sy haar seun se wedstryde in die reën bywoon. Sy kan dit laag oor haar trek en steeds deur die plastiek sien.  Ek begin soek ‘n soortgelyke sambreel, sonder sukses.  As ‘n laaste hoop, skakel ek Checkers se kliëntediensafdeling en beskryf die sambreel wat ek soek.  Die dametjie onderneem om al hul takke te fynkam op soek na die spesifieke sambreel.  Gelukkig is die persoon wie se sambreel dit is, ‘n week uitstedig.

Na ‘n week, skakel Checkers.  Hulle het die sambreel opgespoor.  Ek is so bly en dankbaar.  Ek gaan kry dit by die tak en die Maandag toe die persoon terug is by die werk, oorhandig ek die sambreel.  Sy kom nie eens agter sy’t ‘n splinternuwe sambreel nie. 

Die volgende oggend klim ek op die bus.  Daar is nie voor plek waar ek gewoonlik sit nie, so ek stap tot heel agter.  Net toe ek gaan sit, draai ‘n dametjie om en vra of ek nie my sambreel op die bus vergeet het nie.  Kan jy dit glo?  In vandag se wêreld waar jy niks en niemand kan vertrou, het iemand my sambreel geneem en dit veilig gehou.  Ek vertel vir haar die storie.  ‘n Paar dae later is ek en die sambreel verenig en ek is ‘n vriendin ryker… ‘n pragtige kind van God. Toe eers vertel ek die persoon wie se sambreel ek geleen het die hele storie.


Ek glo dat dit ‘devine intervention’ van God was.  God gee selfs om oor ‘n eenvoudige sambreel.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...