Sunday 18 September 2016

Eer jou vader en jou moeder

Eksodus 20 : 12  “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

Die afgelope week was daar geen dagstukkies nie omdat ek gerou het oor my pa se afsterwe.

Op die 9de September 2016 het my pa sy laaste asem uitgeblaas.  81 jaar en 5 maande lank was hy deel van my lewe.  Woensdag die 14de het ons van hom afskeid geneem tydens 'n pragtige troosdiens.  

Hy het my menswees gevorm en my waardestelsel vasgelê.  Een van sy bekende sêgoed was:  “daar bestaan nie iets soos kannie nie”.  Volgens hom was niks onmoontlik nie.  En ek het dit geglo.  My pa kon alles doen.  Hy was McGuyver nog lank voor die TV reeks; altyd gereed met ‘n plan.  Hy kon uit niks iets maak.

Nog een van sy bekende sêgoed was:  “Werk het niemand nog doodgemaak nie.” Hy het gewerk tot op sy 80ste verjaarsdag en die enigste rede hoekom hy opgehou het, was omdat hy ‘geretrench’ is.  Van kleins af moes ons as kinders werk.  Elkeen het sy take gehad en daar was min tyd vir speel.  Op ‘n naweek was daar tuinwerk of help met waarmee hy ookal besig was om ‘n ekstra inkomste te genereer.  As hy nie diefwering gemaak het nie, was hy besig om motors te koop, netjies te maak en te verkoop.  Op ‘n stadium het hy selfs trekkers gekoop en verkoop. 

Hy het slegs Standerd 6 (graad 8) gehad.  Destyds moes die kinders gaan werk om die plaas van ondergang te red.  Hy’t getrou en daar was drie kinders voor dit belangrik geraak het om verdere geleerdheid te verwerf.  Sy gebrek aan geleerdheid het hom egter nooit teruggehou in die lewe nie.  Dit was eerder sy dryfveer en motivering. 

Vir ons sou hy alles doen en ons het ‘n lieflike kindertyd gehad.  My pa het die Chinese gesegde uitgeleef.  Hy het nie vir een van ons drie kinders ‘n vis gegee nie, maar hy het ons geleer om ‘n vis te vang.  Vandag kan al drie van ons vir onsself sorg. 

Rus in vrede pa.  Tot die einde was jy my held.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...