Thursday 1 September 2016

Gee oor

1 Petrus 5 : 7  Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.

God gee soveel om vir jou.  Nie net gee Hy vir jou om nie, maar hy gee ook om hoe jy voel en oor dit wat vir jou belangrik is.  As jy enige sorge, bekommernis of angstigheid binne jou voel, maak nie saak hoe groot of klein, gee dit vir hom.  Jou finansies, jou verhoudings, jou werk… weet net dat God reeds weet wat jy nodig het en dat Hy graag hierdie dinge in jou lewe wil oorneem en makliker maak vir jou.

Soms maak ons onsself so moeg omtrent hierdie dinge.  Ons het slapelose nagte oor ons finansies… waar gaan die geld vandaan kom?  Jy weet hoeveel jy verdien en jy weet wat jou uitgawes is en nou nog hierdie ekstra uitgawes… jy weet nie herwaarts of derwaarts nie.

Jou verhouding wat so goed begin het, het ewe skielik stormwaters bereik. Julle stem oor niks saam nie en baklei oor die simpelste goed. Alles omtrent die ander persoon irriteer jou.

By die werk voel jy of jy niks kan reg doen nie.  Voorheen was jy ‘n presteerder, maar deesdae bereik jy nie meer jou teikens nie.  Dit voel of jy jou slag verloor het.  Jy is jaloers op die persone wat nou suksesvol is.

In Matteus en Lukas word ons herinner hoe God vir die lelies van die veld, die gras en die wilde voëls sorg.  Hoeveel te meer sal Hy nie vir jou en my sorg nie? 

Werp vandag al jou bekommernisse op Hom.  Kies om Hom te vertrou en toe te laat om jou te versorg.  Weier eenvoudig om oor probleme te tob en toe te laat dat dit jou vreugde steel.  Fokus op jou Bybelstudie en gebed.  God SAL sorg.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...