Tuesday 8 November 2016

Onderrig hul

Psalm 32:8  Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.

Blykbaar moet voornemende teologie studente ‘n toets aflê om hul basiese Bybelkennis te toets.  ‘n Groepie wat dit onlangs afgelê het, het tussen 3 en 5 uit 20 behaal!

Ek raai dat dit is wat gebeur as jy Godsdiensonderrig uit die skool kurrikulum verwyder.  Kan ons die regering blameer?  Ongelukkig nie, want elke kind het ‘n ouer of voog wat volgens my ‘n verantwoordelikheid het om daardie kind in geloofte lei, onderrig en groot te maak. 

Daar is ‘n grappie van die gevangene wat, as deel van sy gemeenskapsdiens, Sondagskool moes gee.  Die eerste Sondag sit die kindertjies toe blinkoog voor hom.  Hy vra wat hulle wil hoor en die een outjie skree:   “Jan en die boontjierank!”  Hy kyk die outjie so aan en sê:  “Nee man, ek het nog nie so ver in die Bybel gelees nie, kies ‘n ander een.”   

Ongelukkig is dit nie ‘n grappie as ek vir jou sê dat menige kind nie eens die bekende Bybelkarakters ken nie.  Hulle kom Sondagskool toe en kan nie een vraag oor die Bybel beantwoord nie.  Baie ouers lees nie meer vir hul kinders Bybel nie, daar word nie meer gebid nie, want baie eet nie meer aan ‘n tafel nie.  Huisgodsdiens bestaan nie meer nie.    

Daarom kan ons nie verbaas wees as mense nie meer ‘n lewe of ander se besittings respekteer nie.

As jy ‘n ouer is, wil ek ‘n beroep op jou doen om jou kind aan Die Bybel bekend te stel. Daar is geen groter geskenk wat jy hom of haar kan gee nie.  Ek hoor so baie hoe mense sê dat kinders nie met ‘n handleiding kom nie, wel die Bybel is ‘n handleiding sonder gelyke.  Dit is waar jy leer wat reg en verkeerd is, hoe jy moet optree en ook wat die gevolge van verkeerde optrede is.  

Dis egter nie net ‘n boek wat jou onderskeid leer nie, maar dit kan ‘n rigtingwyser wees as jy die pad byster raak en dit kan jou hoop gee wanneer jy moed wil opgee.  
Sonder hierdie anker dobber menige kind vandag doelloos rond tussen dwelms, drank en ander vergrype. Hoe kan ek en jy onsself verontskuldig terwyl hier 'n geleentheid is om jong siele te red, of ten beste toe te rus vir 'n wrede wêreld en toekoms.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...