Thursday 17 November 2016

Sigbare geloof

Lukas 5 : 20  Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.”

Partykeer kan ek en jy onsself darem lekker bejammer.  Ons is so jammer vir onsself en vertel ons verhaal vir een en elkeen wat ons mee in aanraking kom sodat hul ook simpatie met ons kan betoon.  Ons huil dat die trane spat en vra voortdurend: “Hoekom?  Wat het ek verkeerd gedoen? Hoe gaan ek ooit hierdeur kom?”

Het jy al ooit gewonder wat beweeg die hand van God?  Dink jy ons trane en selfbejammering beweeg Hom?  Hy is verseker jammer vir ons, maar of dit Sy hand sal beweeg…

Hy word ook nie beweeg deur ons behoeftes nie.  Ja, hy wil ons behoeftes bevredig, maar dan moet ons ook ons deel doen deur ons geloof te demonstreer.

Geloof beweeg God. Verskeie kere in die Bybel lees ons dat Jesus iemand genees het omdat Hy hul geloof gesien het.  Die vraag is of God jou geloof kan sien.

Wanneer God sien dat jy alles in jou vermoë doen om beter te word; wanneer Hy sien hoe jy elke dag jou bes doen, vroeg by die werk is, hard werk en ekstra insit sodat jy daardie bevordering kan kry; wanneer Hy sien hoe jy op jou tong byt om die vrede te bewaar; wanneer Hy sien hoe jy ander help terwyl jy eintlik die een is wat hulp nodig het… dit is wanneer buitengewonde dinge in jou lewe begin gebeur.  Geloof stoot alles uit die pad sodat God kan beweeg. Demonstreer jou geloof vandag en sit terug terwyl jy die hand van God in jou lewe sien beweeg.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...