Sunday 10 September 2017

Moenie in die vallei bly nie

Psalm 23 : 4 Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee

Gedurende my jare in die korporatiewe wêreld het ek deur 8 herstrukturerings gegaan.  Dit beteken jy kry ‘n brief wat jou in kennis stel dat jou huidige pos afgeskaf word, maar dat jy die geleentheid gegun sal word om vir nuwe poste aansoek te doen.  Sou jy nie suksesvol wees nie, dan is dit die proses…  Agt keer was ek dus werkloos.  Agt keer het ek op God vertrou en al agt kere het God vir my deurgekom. 

Dit was nie maklik om God te vertrou wanneer die kanse skraal lyk dat jy ‘n werk sal hê na alles nie. Ons het almal verpligtinge en afhanklikes wat maak dat jou keel onwillekeurig toetrek. Ek het egter nog altyd soos ‘n kind geglo, blindelings.  Nie omdat ek so ‘n goeie Christen was nie, maar omdat ek geweet het, net God kan en sal uitkoms bied.

Hier’s die sleutel.  Wanneer ek na die toekoms gekyk het, het dit donker gelyk.  Wanneer ek na die verlede gekyk het, het ek gesien hoe God daar was my hele lewe lank en my nooit in die steek gelaat het nie.

Wat meer is, na elke herstrukturering het ek ‘n beter pos gehad, soms selfs met bevordering, meer stimulerend, met geleentheid om nuwe vaardighede aan te leer en selfs ‘n beter inkomste.  As ek nou daarop terugkyk, was dit eintlik elke keer in my guns.  Glo my nie een van daardie kere het ek gedink daar is enige iets goed in daardie oefening nie. Dis stressvol om die minste te sê. Dit affekteer jou hele menswees.  Die mat is onder jou uitgeruk en dit het ook ‘n geweldige uitwerking op jou gesin.

Maar dit het een ongewone resultaat.  Dit wys jou hoe wonderbaarlik God ‘n rivier in die woestyn kan maak.  Hoe meer onmoontlik dinge lyk, hoe meer moeiteloos het God alles in plek laat val.

Elke keer het dit vir my soos die einde gevoel en elke keer het God my daar uit die vallei gelei.  

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...