Thursday 7 September 2017

Wees in alle omstandighede dankbaar

Filippense 4:12  Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.

Dis min wat jy gesels met iemand wat heeltemal gelukkig is.  Meeste mense is soekend.  Hul hoop op iets of iemand om hul te voltooi.  Luister maar hoeveel keer mense sê:  As net dit of dat gebeur, dan…

Party mense probeer die leemte vul met kos, dwelms, drank, pynpille.  Ongelukkig bring hierdie oplossings net tydelike verligting en na die tyd voel jy erger as ooit tevore.
Die media help ook nie juis nie.  Oral sien jy advertensies van dit wat jy nie het nie, van mense wat lyk soos wat jy graag wil lyk, die lewe leef wat jy begeer.  Sosiale media is ‘n nuwe bittersoet ervaring.  Dis lekker om met almal in aanraking te wees, maar daar lees en sien jy foto’s van ander se klaarblyklike gelukkige bestaan of besige sosiale lewe en lyk jou eentonige bestaan nog saaier.  Jy verloor egter uit die oog dat hul net die beste van hul eie saai lewe publiseer. 

As jy geluk probeer vind in iets of iemand, gaan jy altyd soekend bly.  Ons soek almal die geheim tot ewige geluk.  As ek net hierdie paar kilo’s verloor… as ek net ‘n beter werk kan vind… as ek net meer sukses kan behaal…

Ons wil so graag by môre uitkom, maar intussen verloor ons die mooi van vandag.  Op die ou einde gaan dit daaroor om in alle omstandighede dankbaar te wees of jy min of baie het.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...