Monday 11 September 2017

Ons verwag as't ware onheil

Psalm 23 : 4 ek sal geen onheil vrees nie

Baie keer wanneer ons deur iets gaan waar uitkoms onmoontlik lyk, dink ek ons probeer onsself beskerm deur onmiddellik die ergste te verwag.  Ons verwag as’t ware onheil. 

Ek onthou nog my laaste herstrukturering.  Die dag toe ons die uitslae ontvang, het hul ons een vir een ingeroep.  Die wat in die kantoor agtergebly het terwyl die uitverkorene sy / haar nuus gaan ontvang het, was grafstil.  Jy kon ‘n speld hoor val.  Ons het almal die ergste verwag.

In die kantoor waarheen jy ontbied is, was die nuwe hoof van die afdeling en jou vorige hoof.  Die vorige hoof het die nuus oorgedra, met ‘n brief ter bevestiging. In ‘n kantoor langsaan het hul beraders gehad om jou by te staan, sou dit nodig wees.  Dit op sigself wys vir jou hoe dit mense affekteer.  My vorige hoof begin:  “Na deeglike oorweging, moet ons jou ongelukkig meedeel dat jy nie ‘n pos gekry het nie.”  Sy bly so ‘n oomblik stil en die nuwe hoof stamp aan haar.  “Nee!” hy tik so op die brief.  Sy kyk na hom en toe na die brief en toe na my.  “Ek is so jammer.  Jy het ‘n pos gekry. Veels geluk.”  Kan jy jou voorstel hoe ek van die een punt van die spektrum geswaai het na die ander?  Noodloos om te sê die trane het gevloei… trane van verligting en blydskap.  Dit was toe nie die ergste nie.

Niks kan jou onderkry as God vir jou is nie.  Jy sal altyd beter af wees as God vir jou is.  Vertrou hom met alles binne jou.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...