Wednesday 6 September 2017

Naomi of Mara

Rut 1:20  Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara , want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak.

Vanoggend toe ek die badkamer se lig aansit, hoor ek net ‘n klapgeluid en besef die lig het geblaas.  Daar staan ek in die donker.  Ek soek ‘n kers en die is nie waar ek dit gewoonlik bêre nie.  Uiteindelik het ek die kers, so teen die tyd dat die res van die familie opstaan, is die krisis onder beheer.  Later probeer ek ‘n nuwe onderlaag botteltjie oopmaak, maar die prop klou halstarrig.  Ek span later ‘n mes in en daar gee die prop mee… noodloos om te sê dat daar onderlaag op alles behalwe my gesig was.  Ek maak skoon en besluit dit is so ‘n mooi dag, ek kan net sowel die beddegoed aftrek en was.  Sommer met die optel van die eerste kussing, sien ek dit… onderlaag.  Nou moet ek die onderlaag probeer uitwas alvorens ek dit in die wasmasjien druk… 

Het jou oggend ook al so verloop? Ek kon maklik gesê het:  “wat ‘n oggend… die duiwel is behoorlik los,” maar ek kies om satan geen erkenning te gee nie.  Die gemors en ekstra werk is steeds daar, maar ek sal nie toelaat dat my vreugde gesteel word nie.  Wat ek wel gesê het, is:  “Die dag kan net beter raak.”

Ons kan so maklik klein jakkalsies inlaat wat ons wingerd verniel.  Iemand glip in ‘n parkeerarea in waarvoor jy lank staan en wag het… Jou gunstelingkledingstuk is nêrens te vinde, of in die was…  Jy vind uit dat jy nie genooi is na ‘n vergadering waar belangrike besluite geneem word nie…  of jy het ‘n soortgelyke oggend as myne…

In Rut lees ons ook van Naomi wie se naam blydskap beteken het, maar op ‘n dag het sy gevra dat sy voortaan Mara genoem word.  Mara het bitter beteken.

Met hierdie gebaar het Naomi toegelaat dat die klein jakkalsies nie net haar wingerd vernietig nie, maar letterlik hul intrek in haar hele wese geneem het. 

In teenstelling daarmee, kyk na die einde van die verhaal van Josef.  Hy kon sy broers bly haat en verwyt het, maar op die ou end het hy besef dat dit alles die plan van God was om te voorsien vir sy familie in ‘n tyd van hongersnood. 

Vra jouself af of jy Naomi wil wees of Mara.  Die keuse kan 'n reuse impak op jou lewe hê.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...