Wednesday 24 January 2018

Bid die bloed van die Lam oor hulle

Openbaring 12 : 11  En hulle het Hom self oorwin op grond van die bloed van die Lam en die boodskap waaroor hulle getuig het

Voordat Irene Park ‘n toegewyde Christen geword het, was sy ‘n heks in die die staat Florida.  Sy het op jong seuns en meisies gefokus omdat hul so kwesbaar was.  Eintlik was hul maklike teikens. Te midde van hul worstelstryd om aanvaarding en die uitdagings en onsekerheid wat hul as tieners in die gesig gestaan het, kon sy hul van jongs af bearbei en nie net blootstel, maar intrek by okkultiese aktiwiteite.  Sy vertel dat sy egter nooit die kinders kon bereik wie se ouers hulle beskerm het deur vir hulle in die naam van Jesus te bid nie, want die bloed van die Lam het hul omvou.  Hulle was onaantasbaar, gebind aan Jesus Christus.

Ons hoor dat Godsdiens nie meer plek het in skole, want dit sluit sekere kinders wat ander gelowe aanhang, uit.  Een geloof mag dus nie bo ‘n ander bevoordeel word nie.  Dis ‘n mooi en edele verduideliking.  Ons behoort verdraagsaam en toegeeflik te wees, maar nie waar dit by God kom nie.  God is nommer een en daarna volg die res.  So word Godsdiens afgewater tot iets minder belangrik wat ons kinders onmiddellik meer vatbaar maak vir enige ander invloede.

As ouers moet ons besef die verantwoordelikheid om ons kinders van God te leer, begin en eindig by ons.  Onthou, kinders is geskenke uit God se hand.  Ons sal eendag verantwoording moet doen oor daardie kind se opvoeding.  As ons nie ons kinders anker in God nie, gaan hulle ronddobber en die eerste beste strooihalmpie aangryp, dit mag dalk net die okkulte wees. Deur die Bybel kan ons ons kinders leer van aanvaarding, liefde, om te behoort en dat hul uniek en spesiaal is.  Ons kan nie meer op skole staatmaak om ons werk vir ons te doen nie. 
Soveel Christene wil siele vir God werf, maar ons eie kinders gaan verlore.  Is dit nie waar ons moet begin nie?


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...