Thursday 25 January 2018

God is besig om jou voor te berei

Jesaja 6 : 8 Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”

William Carey het maar altyd met sy gesondheid gesukkel.  Daar was klein kindertjies in die huis en sy vrou was reeds swanger met nog enetjie.  Jy kan jou indink dat hul lewe nie maklik kon wees nie (baie soos ons eie lewe).  Baie mondjies om te voed en min geld, met hom wat knaend siek is terwyl sy vrou weereens swanger is.  William, ‘n gebore Engelsman, het geroepe gevoel om in Indië sendingwerk te gaan doen.  Soos baie sendelinge, het sy beroep niks met sendingwerk te doen gehad nie.  Toe hy hierdie behoefte met ‘n groep predikers deel, het hulle vir hom gesê:  “As God die heidene wil red, sal Hy dit sonder jou of ons hulp doen.”

William het hom egter nie laat afsit nie.  Hy het voortdurend gewonder wat van die verlore siele in Indië sou word as hy nie gaan nie.  Op die ou end het hy gegaan en hy word genoem ‘die vader van moderne sendingreise’.  Sy prestasies in Indië is amper oorskadu deur die hoeveelheid struikelblokke wat hy moes oorkom.

Later sou William terugkyk en besef dat die struikelblokke wat hy tuis moes oorkom, hom voorberei het vir dit wat vir hom as sendeling sou voorlê.  

Ons besef nie altyd hoekom ons so swaarkry nie. Wanneer God egter ‘n streep trek deur ons swaarkry, word die negatiewe (-) ‘n voordeel (+) wat tot sy eer gebruik kan word.

Jesaja was gewillig om te gaan, maar ‘n seraf moes eers sy lippe met ‘n kool aanraak sodat sy skuld uitgewis en sy sondes vergewe kon word.  (Jesaja 6 : 6 - 7)

Jou pyn is heel moontlik voorbereiding vir ‘n lewe tot eer en verheerliking van God.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...