Tuesday 23 January 2018

Klein jakkalsies

Hooglied 2:15  “Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat al bot.

God haat egskeiding.  Wat God saamgevoeg het, mag niemand skei nie.  Ek glo stellig ons skei te maklik.  God kan enige huwelik red.  Daar is nie meer daardie volharding en deursettingsvermoë wat die huwelik aanbetref nie. As die een nie wil werk nie, dan beeindig ons dit en beweeg aan na die volgende.

‘n Mier is baie klein, maar ‘n mier kan jou huis onder jou wegdra en laat ineenstort.  Dit is hoekom ons bedag moet wees op die klein irritasietjies wat ons huwelik insluip en van binne vernietig. 

Selfsugtigheid:  Neem mekaar in ag.  In ‘n huwelik is daar twee mense.  Dit gaan oor gee en neem.  Wanneer jy begin gee, sal jy sien hoeveel jy terug ontvang.  Gee al ontvang jy niks in ruil nie.  As selfsug verdwyn, sal jy hom/haar met respek behandel en nie jou eie belang voorop stel nie.

Stilstuipe:  Wat bereik jy nou eintlik met stilstuipe?  Eenvoudig beskou is dit ‘n kompetisie om te kyk wie die langste die ander kan straf, maar eintlik verloor jy wat in stilstuipe verkeer die meeste.  Gebrek aan kommunikasie, is een van die grootste oorsake van egskeiding.  As jy bang is jy gaan jou humeur verloor, raak eers kalm, maar praat dan wel die saak uit.  As jy voel jy kan nie oor die onderwerp praat nie, sit jou emosies eenkant, maar praat wel oor die saak.

Jaloesie:  Hierdie is ‘n tweesnydende swart.  As jy ‘n jaloerse natuur het, praat met jou maat voor jul troue en sorg dat hy/sy weet wat hul moet doen om jou veilig te laat voel.  As jy nie jaloesie kan verdra nie, maak seker jou maat is nie jaloers nie.  Jaloesie kom gewoonlik na vore omdat een maat die ander probeer vermaak of omdat daar rede tot jaloesie is.  Die groenoogmonster kan enige huwelik laat wankel.  Wanneer jy trou is daar net twee mense (plus God) in daardie huwelik.  Daar is nie plek vir ‘n derde persoon nie.  Partykeer is die jaloesie nie a.g.v. ‘n ander persoon nie, maar omdat een party te veel tyd aan ‘n spesifieke aktiwiteit spandeer.  Jou maat behoort die middelpunt van jou bestaan te wees (weereens naas God), nie jou werk, jou fiksheid, jou gholf of kerk aktiwiteite nie.

Ongeduld:  As jy kort van draad is, werk daaraan alvorens jy trou, want na die huwelik gaan jou ongeduld eers op die proef gestel word.  Pare moet ook weet wat mekaar se ‘hot buttons’ is.  As jou ‘hot button’ stiptelikheid is, sorg dat jou maat weet sodat hy/sy kan sekermaak hulle beproef jou nie.  As jou ‘hot button’ koue kos is, sorg dat jou maat dit weet.  Iemand kan nie ruik wat jou pla nie.  Met tyd is dit asof meer dinge mekaar irriteer en dit behoort nie so te wees nie, want liefde behoort alles te oorbrug.

Herken daardie klein jakkalsies.  Daar is nog baie van hulle.  Jy kan nie teen ‘n vyand veg wat jy nie ken nie.  Dit mag wees dat God egskeiding haat, maar hy is lief vir die huwelik.  Maak Hom deel van jul span.  ‘n Man en ‘n vrou is immers ‘n span… twee karperde wat saam die wa deur die drif trek.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...