Monday 22 January 2018

Jukke

Jesaja 10 : 27  In dié tyd sal Hy die las verwyder wat hulle op julle skouers gelê het, en ook hulle juk van julle nek af; die juk sal heeltemal van julle af afgeruk word.

Wanneer hul die juk op die osse plaas, is dit om die dier te beheer.  Dit beperk sy bewegings en sodra die os van koers af beweeg, word die juk gebruik om hom terug op koers te bring.  ‘n Os is baie groter en sterker as ‘n juk, tog is dit hierdie stuk hout wat die os daarvan weerhou om te gaan waar hy wou.

Sommige mense besef nie eens dat hul ook met ‘n juk om hul nek deur die lewe gaan nie. Hul wonder hoekom hul nie suksesvol is of vooruit gaan nie, maar hul kom nie agter dat dit die juk is wat hul terughou nie.  Elke keer dat hul buite hul gemaksone wil beweeg, hoor hul die stem van iemand wat hul lank gelede oortuig het dat hul dit nooit sal maak of nie goed genoeg is nie.  Hul hoor weer hoe hul tekortkominge aan almal uitbasuin word.  “Jy’s te stadig.  Jy’s te vet.  Jy’s nie mooi genoeg nie.  Niemand hou van jou nie.  Jy gaan nooit ‘n man/vrou kry nie.  Rugby is nou maar eenmaal nie vir jou nie.”  Partykeer is jou juk die gebrek aan voldoende finansies.  Ander kere is die juk die mense in jou lewe wat jou terughou. 

Hoekom bly ons soos ‘n os, tevrede met die juk wat ons bewegings kniehalter?  Dit hoef nie so te wees nie.

Hoor vandag dat God in staat is om enige juk af te haal en te vernietig. Hy maak jou waarlik vry.  Beroep jou op God om jou te verlos van die leuens wat jy tot nou toe oor jouself geglo het.  
En kies dan om te vergewe, sodat jy nie een juk vir ‘n ander verruil nie.


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...