Monday 9 April 2018

God weet beter


Romeine 15: 13  Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Partykeer is dit moeilik om aan God se beloftes vas te hou.  Dis veral moeilik wanneer jy bid, glo en vertrou, maar niks gebeur nie… of nog erger wanneer dit waarvoor jy gevra het, nie gebeur nie.  Daar is niks erger as om te voel dat God vir jou nee gesê het… dat Hy nie jou gebed verhoor het… of dat dit waarvoor jy Hom vertrou het, jou nie beskore is nie.

Ek dink ons mis een baie belangrike aspek… God se liefde.  Het jy al ooit daaraan gedink dat God nie jou gebed beantwoord het nie omdat Hy iets beter vir jou in gedagte het?  Ek weet dit is nie wat jy wil hoor nadat jy gebid het dat God jou huwelik moet red en dit in elk geval uitmekaar geval het nie… dis verseker ook nie wat jy wil hoor wanneer jy gebid het dat jou geliefde moet gesond maak en die persoon tog gesterf het nie…  Jy wil dit ook nie hoor wanneer jy al hoe lank werkloos is en uiteindelik vir ‘n onderhoud vir jou droomwerk genooi word, net om te hoor jy is nie die suksesvolle kandidaat nie. 

Beteken dit dat God jou nie meer lief het nie?  Beslis nie.  Maar dit maak die seer en teleurstelling nie minder nie…

Ek kan getuig dat ek gebid het dat my man moet afsien van sy buite-egtelike verhouding en dit nie gebeur het nie.  Die ink op ons egskeidingspapiere was nog skaars droog, toe trou hulle.  Om verdere sout in my wonde te vryf het hul kort na mekaar twee kinders en is byna 30 jaar later steeds getroud.  MAAR… al was die pyn ondraaglik en al was dit hoe moeilik om vrede te maak met die feit dat ek toe ‘n geskeide vrou is… en al het die klappe van die lewe nie daar opgehou nie, kan ek vandag getuig dat God uiteindelik beter geweet het.  Ek sou nie word wie ek is, doen wat ek doen en die gesin gehad het wat ek nou het, as God my gebede sou verhoor het nie.  God haat egskeiding en dit was een van die moeilikste dinge vir my om te verwerk, maar Hy is ook regverdig en uiteindelik kon ek vrede in Sy Woord vind.  Dit het nie oornag gebeur nie, maar God was elke tree van die pad daar en daarvoor gee ek aan Hom al die eer.

Mag jy ook eendag terugkyk op hierdie tyd waarin jy jou nou bevind en ook sien dat God beter geweet het.  Ons moet Hom net vertrou.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...