Sunday 8 April 2018

Vertrou op die Here


Psalm 33 : 20  Ons vertrou op die Here: Hy is ons hulp en ons beskermer.

In al die jare dat ek God dien, het ek een ding geleer en dit is dat God altyd op die regte tyd ingryp en op die regte manier optree.  Ons wil so graag verstaan.  Ons wil so graag die antwoorde op ons vrae hê. 

Ek vra vandag nog hoekom ek nie by die huis was toe my ma gesterf het nie… hoekom het dit nie ‘n dag later gebeur toe my seun vroeg sou opstaan vir klas en by die huis sou wees nie… hoekom het ek die kat na haar kamer geneem, maar nie vir haar tot siens gesoen het nie…? 

Oom Angus het onlangs op die televisie gesê dat Christene dink hul moet al die antwoorde hê en dat dit so verkeerd is.  Ons hoef nie al die antwoorde te hê nie. 

Tog kan ons baie moedeloos raak as ons nie die antwoorde het nie.  Wat sê jy vir iemand wat hoop verloor omdat hul alles verloor het?  Wat sê jy vir ‘n jong kind wie ‘n ouer aan die dood afstaan en wil weet hoekom Liewe Jesus sy of haar mamma of pappa kom haal het? Wat sê jy vir ‘n jong seun wat verlam is na een onbesonne daad… of hy nou van ‘n kaai afgeduik het, rugby gespeel het, of saam met vriende wat te veel gedrink het in ‘n motor geklim het?

Ons het nie die antwoorde nie, maar vandag wil ek jou bemoedig om nie moedeloos te raak nie.  Moenie tou opgooi nie.  Dink jy vir een oomblik dat God, wat jou trane sien, van jou vergeet het? Hy is te lief vir jou om nie om te gee nie.

Hou aan om Hom te dien en te vertrou.  Voor jy jou kom kry, het Hy ‘n ander deur vir jou oopgemaak… een wat jy nooit ooit kon droom vir jou sou oopgaan nie.


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...