Tuesday 10 April 2018

Uitgekies


Jesaja 43:1  Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

Wanneer jy aansoek doen vir werk, word jy gewoonlik gekeur en as jy aan die minimum kriteria voldoen, nooi hul jou vir ‘n onderhoud.  Afhangende van die maatskappy en die posisie waarvoor jy aansoek doen, kan daar een of meer persone in die onderhoud teenwoordig wees.  Soms is daar selfs meer as een onderhoud en sekere toetse waaraan die kortlys kandidate onderwerp word.  Daarna wag jy om te hoor of jy die geskikte kandidaat is.

By God werk dit anders.  Hy het jou gekies.  Jy het geen kwalifikasies nodig nie… Om die waarheid te sê hy verwag nie eens dat jy bekwaam moet wees nie. Vir Hom is dit genoeg dat jy bereidwillig en gehoorsaam is.  Om jou op standaard te kry, daarvoor sal Hy sorg.

Wat ‘n paradoks.  Dis nogal iets om jou kop om te kry. 

Ek glo dit is omdat God jou geskape het.  Hy weet van die potensiaal wat binne jou opgesluit is.  Werkgewers kyk na kwalifikasies en hoop dat jy kan toepas wat jy geleer het of dat jou ervaring voldoende sal wees om die werk te kan doen.

So wanneer jy God se roepstem hoor, moenie dink dat jy nie opgewasse vir die taak is nie.  Hy roep jou omdat Hy volle vertroue in jou het. 

Dalk is hier ‘n les in vir werkgewers.  Stel iemand aan wat die regte houding het eerder as iemand wat hulself op papier of in ‘n onderhoud kan verkoop.  Wanneer iemand oor die regte houding beskik, kan hul enige iets doen waarop hul hulself toespits, maar indien iemand se houding nie na wense is nie, gaan dit selde beter nadat hul aangestel is.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...