Wednesday 11 April 2018

Op wie vertrou jy?


Psalm 25 : 3  Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande.

Vertrou jy op jou werkgewer en die salaris wat jy daar verdien om in jou behoeftes te voorsien?  Koop jy die lotto omdat jy dink dit is die enigste manier om uit die skuldgat te kom waarin jy jouself bevind?  Hoop jy dat jy ‘n deurbraak sal maak indien jy met die regte mense omgaan? Of dalk vertrou jy op jou man om vir jou en die kinders te sorg.

Die probleem met vertroue in enige iets of iemand op aarde, is dat jy niemand kan vertrou nie. 

Werkgewers neem koue, kliniese besluite.  Dit gaan oor die voortbestaan van die maatskappy. Die beleggers of aandeelhouers moet te alle koste eerste gestel word.  Jy is ongelukkig nie hoog op hul prioriteitslysie nie. 

Met die Lotto het jy ‘n uiters skraal kans… so ook met dobbel.  Soos met ‘n casino, is daar selde wenners, maar baie beslis hope verloorders.

As jy vriendskap moet koop, moet die opregtheid van jou vriendskappe bevraagteken word.  As vriendskap net daaroor gaan dat jy voordeel daaruit kan trek, moet jy jou motiewe bevraagteken.  In albei gevalle is die fondament uiters wankelrig.

Menige vrou het al getuig hoe swaar hul gekry het nadat hul man afgesterf het of hul geskei is omdat hul nooit geleer het om onafhanklik te wees nie.  Jy kan nie Mev Dokter wees nie, want dan leef jy in jou man se skaduwee.  Wees jou eie mens.  Hê jou eie menings.  Staan op jou eie bene en sorg dat jy finansiëel onafhanklik sowel as kundig is.  Dit beteken nie dat jy jou huweliksbeloftes ter syde stel nie… jou man is steeds die hoof van die huis en jy eer en ondersteun hom steeds, maar jy sal kan aangaan as hy nie meer daar is nie.

Of jy kan eenvoudig op God vertrou.  Hy lieg nooit… Hy verneuk nooit… Hy het geen valse voorwendsels nie… Hy gaan jou nie uitbuit of gebruik nie.   Hy hou Sy beloftes en Hy is ‘n Waarmaker van Sy Woord.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...