Monday 27 August 2018

Anker jou tent


Jesaja 54 : 2  … Maak langer die tentlyne en slaan die tentpenne dieper in,

My ouers was lief vir kampeer.  Ons het vele skoolvakansies met ‘n karavaan iewers in ons mooi land gaan kampeer.  Dis regtig ‘n belewenis en herinneringe wat jou vir altyd bybly.

Eers moes pa die karavaan op die staanplek posisioneer en daarna moet die tent opgeslaan word.  Dit was nogal ‘n uitdaging omdat ons nie ons eie karavaan gehad het nie en elke keer een gehuur het.  Daarom was dit gelykstaande aan vandag se spanbou oefeninge.  Luister en spanwerk is vaardighede wat tot die uiterste toe beproef is, maar ons het geweet dat ‘n spanpoging sal sorg dat ons so gou moontlik in die nabygeleë swembad of see kan gaan baljaar. 

Een jaar het ons so ‘n roete deur die land gedoen en ons laaste staanplek was by Agulhas.  Daardie nag het ek besef wat ‘n stormwind is;  dat dit iets is waarop jy selde voorbereid is.

Eers het ma ons geroep om binne die karavaan te kom slaap, want vir ons drie kinders was die tent die lekkerste slaapplek op ons kampbedjies.  Kort daarna het pa besluit dat ons die tent moet afslaan as ons nie die volgende dag net flentertjies wil oorhou nie.  En as die tent stukkend is of nog erger, weggewaai is, sal pa moet opdok.  In die vroeë oggendure het pa selfs besluit om die karavaan aan die motor te haak sodat ons darem behoorlik geanker is.

Net so onverwags tref stormwinde ons ook in die lewe.  Dalk bevind jy jouself vandag in die oog van die storm.  Maak seker jou tentpenne is stewig ingeslaan en die toue styf getrek.  Gee sommer so ‘n ekstra paar kappe.

God is jou tent (skuiling), geloof jou tentpenne en gebed jou tenttoue.  Hoe dieper jou tentpenne m.a.w. hoe sterker jou geloof en hoe meer tenttoue (gebede), hoe groter die kans dat jy die storm sal deursien in een stuk.

Dis nooit maklik nie en dit is nie wat ons wil deurgaan nie, maar dit leer jou ook om die windstil tye in jou lewe te waardeer, daardie tye wat jy salig en gelukkig is.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...