Tuesday 28 August 2018

Ouers


Spreuke 23 : 22  Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie.

Alreeds in Exodus word ons deur die tien gebooie daaraan herinner om ons vader en moeder te eer.  Dit is defnitief iets wat vir God belangrik is. 

Jy hoef maar net na Jesus as voorbeeld te kyk.  Selfs te midde van Sy lyding, het hy vir een van Sy dissipels gevra om na Sy ma om te sien.  Hy was ‘n voorbeeld vir jou en my van nie net gehoorsaamheid nie, maar ook van respek / eer en liefde vir ons ouers.

Jy hoor en lees te veel van ouers wat vergeet word, van ouers wat verag of geblameer word, van ouers wat mishandel word… 

Toe my seun eendag iets verkeerd doen en ek hom berispe, sê hy:  “Maar mamma het my nooit gewaarsku hieroor nie.”

Ons gesprek het min of meer as volg verloop:  “Ek het nie ‘n lysie wat ek van 1 tot 1000 kan deurgaan om seker te maak dat ek jou alles geleer het en teen alles gewaarsku het nie.”  Hy:  “Hoe moet ek geweet het dit is verkeerd?” Ek:  “Sekere goed moet jy weet omdat jy die basiese beginsels van reg en verkeerd ken.   Ek gaan nie altyd daar wees om vir jou voor te skryf nie.”

Kinders kom nie met ‘n handleiding nie.  Ouers maak foute.  Dalk kan jy as kind so ‘n bietjie meer simpatie vir jou ouers hê as jy besef dat niemand perfek is nie.  Oorweeg miskien hul omstandighede en die uitdagings wat hul gehad het.  Ek kan jou verseker meeste ouers wil net die beste vir hul kinders hê en wat hul doen, doen hul omdat hul net die beste vir jou wil hê. 

Partykeer gebruik mense dit tot hul voordeel dat hul nie perfekte kinderdae gehad het nie.   Dit help nie om jouself te bejammer omdat jy uit ‘n disfunksionele gesin of enkelouer gesin kom of aangeneem is of mishandel is nie.  Dis die harde feite van die verlede.  Baie volwassenes se storie is dalk nog erger as joune, maar hul het steeds ‘n sukses van hul lewe gemaak.

En as jou ouers foute gemaak het… wil jy hul nie maar vergewe nie?  Jy sal nie daarvan hou as God jou sondes voortdurend teen jou kop gooi nie.  Jy verwag Hy moet jou vergewe.  Gun jou ouers dieselfde begenadiging.  Dit maak nie saak hoe ‘sleg’ jou ouers was nie, wanneer hul die dag nie meer daar is nie, mis jy hulle so verskriklik baie.  En baie keer vergeet jy dan die negatiewe en begin jy die lewe deur hul oë sien.

Hoeveel kinders stel regtig in hul ouers belang.  Het jy al ooit met jou ouers gepraat oor hul kinderdae of hoe hul mekaar ontmoet het.  Weet jy waaroor hul nog droom?  Weet jy wat vir hul belangrik is?

Dit is so dat jy dalk vir langer na jou ouers sal moet omsien as wat hul jou versorg het.  Daarom is dit so belangrik om ‘n goeie verhouding tussen ouers en kinders te vestig. 

Bloed kruip waar hy nie kan loop nie… jy is hul kind… moet hul nie verag nie.


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...