Thursday 6 September 2018

Verbrand alles


1 Konings 19 : 21  Toe draai Elisa om en gaan slag twee osse, en met die juk het hy die vleis gebraai en vir sy werksmense gegee om te eet. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.

Met hierdie daad het dit vir Elisa ontmoontlik geword om na sy ou manier van lewe terug te keer. Hy het alles opgeoffer.  Die daad was simbolies daarvan dat dit die einde van Elisa as boer beteken het, maar ook die begin ingelui het vir Elisa as profeet.

Wanneer jy iets aanpak, hoop jy om sukses te behaal.  Dalk wil jy gewig verloor…  ‘n buite-egtelike verhouding beeindig… jou drankverslawing te bowe kom... iewers moet jy begin.  Dis gewoonlik waar baie mense vashaak.  Die eerste stap is gewoonlik die belangrikste, maar ook die heel moeilikste.  En daarom sal baie uitstel.  Miskien volgende Maandag… sodra dit beter gaan in my huwelik... nog net een drankie… ens.

Waar baie van ons faal is dat ons daardie tree neem, maar nie die brug na die verlede afbrand nie.  Sodra dinge dan bietjie moeilik raak, draf ons terug oor die brug.  Jy moet die moontlikheid om terug te gaan elimineer, soos Elisa.  Dis die enigste manier om jou doelwit te bereik.

Raak dus ontslae van al die versoekings in jou kaste as jy jou dieet begin...  Blokkeer die persoon se nommer op jou foon... gooi die drank in die rioolpyp af...

Wanneer daar geen brug na die verlede is, kan jy nuwe hoogtes bereik, verhoudings genees, verslawing oorkom.

Alhoewel dit nie vir Elisa nodig was om sy gereedskap te verbrand om Elia te volg nie, was dit simbolies die regte boodskap wat hy oorgedra het. Dit was Elisa wat ‘n pen in die grond gekap het om te wys waar hy staan. 

Baie keer is mense met tweede beste tevrede omdat hul nie alles in die stryd gewerp het om te verseker dat hul eerste keuse realiseer nie.  Plan A mense het nie ‘n Plan B nie.  By hulle is dit alles of niks. 

Ek verongeluk liewer terwyl ek my Goddelike drome nastreef as om sukses op ‘n ander manier te behaal.

Plaas jou ‘osse’ vandag op die altaar en gebruik sommer die ‘jukke’ om vuur te maak om hul te verbrand.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...