Wednesday 19 September 2018

Jy is waar jy moet wees


Handelinge 17 : 26  Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon.

Te veel mense gaan deur die lewe met die idee dat hul nooit gebore moes gewees het nie.  Of dit nou is omdat jou geboorte nie beplan was nie en of dit is omdat jy voel jy is nie uit liefde gebore, weet een ding vandag… jou geboorte is baie noukeurig deur God vooraf beplan.

Lank voor jou geboorte het Hy nie net jou bestaan beplan nie, maar selfs waar jy sou woon.   God het alles haarfyn beplan… die tyd van jou geboorte… jou geslag… jou gelaatstrekke… jou talente…  In Psalm 139 :16 – 17 lees ons:  U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Jy was nie ‘n ‘last thought’ deur God nie.  Alles was swart op wit aangeteken lank voor jou geboorte.

Dalk is jy nie juis opgewonde om in Suid-Afrika te wees op die oomblik nie.  Miskien is die area waar jy woon gevaarlik.  Weereens is ons op presies die plek waar God ons wou gehad het.  Jou toekoms is nie dieselfde as iemand anders se toekoms nie.  Jou lewenspad is nie dieselfde as iemand anders s’n nie.  Psalm 37 : 23 lees:  Die Here bepaal die rigting van ‘n mens en met Sy lewe is Hy tevrede.

Moenie jouself verder kasty of jou waarde of die plek waar jy jou bevind bevraagteken nie.  As God dit anders wou gehad het, sou Hy dit anders beplan het.


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...