Tuesday 18 September 2018

Neem jou kruis op


Lukas 9 : 23  Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg,

Dit is maklik om God te dien terwyl jy jou tussen ander gelowiges bevind, miskien in die kerk terwyl jul saamsing of daar by jou huis waar jy uit die Bybel lees sonder om oor jou skouer te loer.  Nie alle Christene het dit egter maklik gehad nie. 

1. Petrus (Simon) (broer van Andreas):  Hy was ongeveer 66 nC ’n martelaar in Rome gedurende die bewind van keiser Nero. Na bewering het Petrus gevra om onderstebo gekruisig te word omdat hy nie gelyk aan Jesus gestel wou word nie.

2. Andreas (broer van Simon Petrus): Hy is na bewering gekruisig.

3. Jakobus (seun van Sebedeus, broer van Johannes):  Volgens Handelinge 12:1-19 is Jakobus op bevel van Herodus, met ’n swaard doodgemaak.

4. Johannes (seun van Sebedeus, broer van Jakobus):   Johannes was die enigste oorspronklike dissipel wat nie ’n geweldadige dood gesterf het nie. Hy het in Patmos gesterf ongeveer 100 nC.

5. Filippus:  Hy is in die Egiptiese stad Heliopolis geslaan, in die gevangenis gegooi en in 54 nC gekruisig.

6. Bartlomeus:  Hy is in Indië doodgemaak. Daar is twee weergawes:   Ongeduldige afgodsdienaars het hom geslaan en toe gekruisig.  Hy is lewendig geslag en onthoof.

7. Tomas:  Is met ’n spies doodgemaak in Indië.

8. Matteus (die tollenaar):  Hy het in Etiopië gesterf waar hy vermoedelik in die rug gesteek is deur 'n swaardvegter wat deur koning Hertacus gestuur is, nadat hy die koning se sedes gekritiseer het.

9. Jakobus, seun van Alfeus:  Op 94-jarige ouderdom is hy deur vervolgers geslaan en gestenig, en daarna is hy vermoor deur hom met 'n knuppel oor die kop te slaan.

10. Taddeus (Lebbeus / Judas), seun van Jakobus:  Volgens baie stories is hy gekruisig by Edessa in 72 nC.

11. Simon die fanatikus / Kananeër / Seloot / Yweraar:  Hy is in England gekruisig 74 nC.

12. Mattias (vervang vir Judas Iskariot):  Hy is in Sirië verbrand.

Ander

Paulus:  Soos Petrus was hy ongeveer 66 nC ’n martelaar in Rome gedurende die bewind van keiser Nero. Hy is onthoof.

Lukas:  Hy was ’n Griekssprekende mediese dokter en is in Griekeland gehang juis omdat hy so dikwels vir die verlorenes gepreek het.

(bron:  www.glodiebybel.co.za)

Is jy bereid om te sterf vir jou geloof?  Is jy bereid om met iemand wat nie dieselfde geloof as jy het oor God te praat?  Is jy bereid om om die braaivleisvuur of op die rugbypaviljoen oor God te praat? 

Dit het te maklik geword om ‘n Christen te wees.  Ons het Christen literatuur, Geestelike boodskappe, Christen radiostasies… ons is soos vissies wat net ons monde oophou om gevoer te word, maar van ons kant is daar bitter min opoffering.

Dalk het die tyd aangebreek om ook ons kruis op te neem en daadwerklik in diens van die koninkryk te wees, maak nie saak wat dit ons kos nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...