Thursday 20 September 2018

Jy's pragtig!


Psalm 139 : 14 – 15  Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:  geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot

Ons vergelyk onsself voortdurend met ander.  Jy blaai deur ‘n tydskrif en wens jy het ‘n vel gehad soos die persoon op die bladsy voor jou.  Of jy wens jy het soos hul gelyk… of dit nou hul liggaamsbou of oë of bene of hare is. 

Baie min van ons is eenhonderd present tevrede met wie ons is.  As dit so was, sou daar nie so ‘n geweldige mark gewees het vir onder andere haarkleurmiddels, sonbrandroom of gewigsverliespille nie.  Daar is altyd maar daardie plekkie aan jou liggaam wat jy graag sou wou verander.  Die persoon met krulhare wil reguit hare hê en die persoon met stokkies begeer weer ‘n krullebol.   ‘n Niggie van my het vir jare middae na skool aan hul wasgoedpaal gehang omdat sy gehoop het sy sou sodoende rek en langer word. 

Die persoon wat ons bewonder of wie se karaktertrekke ons beny het ook onsekerhede.  Daardie persoon het ook iets aan hul liggaam waarmee hul nie gelukkig is nie.  Feit is:  Niemand is perfek nie.  Die geheim is om jouself te aanvaar vir wie jy is.

Eintlik lê die probleem daarby dat ons te dikwels op daardie een of twee swakpunte (in ons oë) fokus en die horde ander positiewe karaktertrekke heeltemal mis. 

Het jy al ooit vir iemand ‘n kompliment gegee en die persoon maak dit af op so 'n manier dat jy eintlik aan jou eie oordeel begin twyfel?  Hoekom kan ons nie ‘n kompliment met grasie aanvaar nie.

James Thurber het geskryf:  “Almal moet probeer om voor hul dood uit te vind waarvan hulle weghardloop en waarheen en waarom.”

Kyk ‘n slag na jouself in die spiëel en sien jouself deur God se oë.  Jy is pragtig en uniek, perfek geskape volgens die Skepper van die heelal.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...