Monday 5 November 2018

Toewyding


Prediker 9 : 10  Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen

Wanneer jy iets na die beste van jou vermoë doen, tot eer van God, maak dit die deur oop vir God om ryke seëninge oor jou uit te stort.  Dit beteken dat dit beter sal gaan, dat jy meer sal bereik, dat dinge makliker sal word.  Dit is hoekom dit so belangrik is om altyd jou beste te gee. 

Dit is maklik om voluit te gaan as jy raakgesien gaan word, maar jy moet ook jou beste gee wanneer jy iets doen wat nie noodwendig aardskuddende gevolge sal meebring nie.  As jy byvoorbeeld skottelgoed was, huis aan die kant maak, gras sny, stryk, die drom leegmaak… doen dit met ‘n lied in jou hart en nie terwyl jy mor en kla nie.  Jy weet mos hoe party mense kan aangaan. Hoekom moet ek altyd die skottelgoed was!   Ek haat gras sny!  Ek wil nie huis aan die kant maak nie!  Dis altyd my beurt om die drom leeg te maak!  Sny daardie gras met soveel sorg en ‘n lied in jou hart asof dit God se grasperk is.  Neurie terwyl jy skottelgoed was of die drom uitneem.  Dans agter die besem, mop of stofsuier aan.  Stryk op maat van geestelike musiek.

Met elke tree prys God vir die voorreg om dit op eie stoom te kan doen.  Dank God vir krag en gesondheid om self jou takies te kan verrig.  Prys Hom omdat Hy jou vertrou met so iets.  By die werk kla jy nie as jy die donkiewerk kry nie, nee doen dit so goed dat hul jou met meer vertrou.  As jy by die kerk jou dienste aanbied, moenie agterna wonder hoekom jy jouself soveel moeite aangedoen het nie. 

Dien God in die groot en klein dingetjies van die lewe.  Eer Hom met elke tree en handeling.  Wanneer jy God eer, sal Hy jou eer.  Hy gaan deure vir jou oopmaak, seen oor jou uitstort en jou grondgebied vergroot.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...