Wednesday 16 January 2019

Bly glo


Romeine 4 : 17  soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.

Hoe vas staan jy in geloof?  As jy bid en God antwoord nie dadelik nie, gee jy op?  Hou jy op en glo dat God in elk geval niks aan jou situasie kan verander nie?  Vers 18 sê: Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo.

Abraham het alle rede gehad om op te hou glo.  Hy was al oor ‘n honderd jaar oud… sy vrou was al verby haar vrugbaarheidstyd… en as niks tot nou toe gebeur het, wat is die kans dat daar iets in die toekoms gaan gebeur?  Abraham stel egter vir ons ‘n voorbeeld in vers 20 & 21:  Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee.  Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.

Om te glo as daar nog ‘n kans is, is een ding, maar om te glo wanneer jy voor jy siel weet dis te laat, dis heeltemal ‘n ander ding.  Hoe kon hy so vas glo.  Abraham het hom toespits op God se CV.  Hy het dooies lewend gemaak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand gebring deur sy woord.

God weet wat die toekoms inhou.  In Sy alwysheid het Hy geweet dat Hy nie leë woorde uiter as Hy vir Abraham sê dat Hy hom die vader van baie nasies sal maak nie.  Hy het geweet van Isak, die seuntjie wat uit ‘n toe reeds onvrugbare vrou gebore sou word.  Dalk het God so effens Sy mond verbygepraat (met respek gesê).

God weet ook wat in jou toekoms lê. Hy is ook ‘n God wat ons graag gee, die begeertes van ons harte.  Wanneer ons dus in gebed tot Hom nader, al lyk die saak hoe onmoontlik, kan ons vasstaan in geloof, want God is ‘n waarmaker van Sy woord. Glo vandag soos Abraham, al is daar geen hoop nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...