Tuesday 15 January 2019

Hoorder of Doener


Jakobus 1 : 23  Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in 'n spieël kyk:  hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.

Deesdae hoor jy nie meer net die Woord wanneer jy Sondag kerk toe gaan of wanneer jy jou Bybel lees nie.

Daar is kanale gereserveerd vir Godsdiens waar verskeie predikers die Woord verkondig.  Daar is blogs, soos die een.  Verder ontvang ons prentjies via WhattsApp met ‘n geestelike inslag en jy het toegang tot ‘n wye verskeidenheid geestelike literatuur. 

Hierin lê die gevaar.  Ons hoor dit op soveel verskillende maniere dat dit nie meer regtig insink nie.  Dit word net so vlugtig gescan en soms selfs geignoreer.  En omdat ons dit so gereeld hoor is ons oortuig dat ons op die regte pad is.  Ons mag onsself selfs oortuig dat ons nog nooit nader aan God was nie.

Meeste mense wil hierdie boodskappe ontvang sodat dit hul kan bemoedig wanneer hul deur ‘n moeilike tyd gaan.  Hul glo dan dat God met hul praat as die boodskap ‘n teks en inslag het wat tot hul situasie spreek en hoop bied.  En dit is so, maar ons wil net hoor wat ons wil hoor.  Ons wil bemoedig word en verseker word van uitkoms en voorspoed.  Wanneer die boodskappe egter gaan oor iets wat ek van my kant moet doen, dan skakel ek af.

Hoe kan ons gelowiges wees, maar net die goeie uit God se hand wil geniet?  Sodra daar van ons verwag word om iets te doen, voel ons die boodskap is nie vir ons. 

Jakobus kan jou baie ongemaklik laat rondwikkel. Jakobus 2 : 14  Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red?

In die huwelik leer ons die beginsel van gee en neem.  Dieselfde geld in ons geloof.  Ons kan nie net ontvang nie.  Ons moet ook gee en doen. 

Dit is tyd vir intensiewe selfondersoek.  Is jy soekend na God of soekend na self-gratifikasie?  As jy werklik eerlik moet wees, waar staan jy t.o.v. jou verhouding met God?  Ken jy Hom regtig en is jy besig om soos Hy te word?  Is jy nog geestelik onvolwasse of het jy al ‘n mate van geestelike volwassenheid bereik? 

Onthou Jesus het voortdurend beweeg tussen diegene wat Hom die nodigste gehad het, of dit nou vir genesing was of om seker te maak dat hul die boodskap van verlossing hoor.  Hy was dienend en het nooit iets terug verwag nie.  Sy hele lewe lank het Hy goed gedoen. 


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...