Wednesday 13 February 2019

Belangrikheid


Psalm 78 : 7 – 8  Want niemand kan ‘n mens belangrik maak nie, niemand in die ooste of die weste, of in die woestyn nie.  Dit is God wat oordeel.  Hy wys vir party mense dat hulle nie belangrik is nie en Hy maak ander mense belangrik.

Wanneer jy ‘n groot salaris verdien en die beste van alles besit of kan koop asook ‘n belangrike pos beklee glo jy dat jy dit gemaak het.  Ander kyk op na jou.  Hulle wil soos jy leef en so belangrik soos jy wees.

Wat gebeur egter wanneer dit alles van jou weggeneem word?  Vir meeste stort hul wêreldjie ineen en is hulle ewe skielik niemand.  Dis dikwels wat gebeur wanneer mense aftree.  Skielik word hul nie meer deur hul titel gedefinieer nie... Skielik is die inkomste minder... Skielik is hul 'net' 'n pensioenaris.  Hoe hartseer dit ookal is, ons meet mense aan wat hul besit en wie hul is.

Om hierdie aansien te verdien, werk meeste mense hulself tot op breekpunt.  Party brand uit terwyl ander ‘n stryd teen depressie voer.  Meeste voel altyd of hul tekort skiet, want hul is nog nie op dieselfde vlak as diegene wat hul bewonder nie.  En so bly dit ‘n gejaag na wind soos die Prediker dit so mooi stel.

By God hoef jy nie aansien te verdien nie.  Hy gee dit!  Hy maak ander mense belangrik...Dis nogal 'n openbaring!

In Psalm 37 begin alles sinmaak.  Leef jy maar net rustig voort.  Moet jou nie oor skelms of diewe bekommer nie.  Vertrou op die Here… Laat jou lewe aan die Here oor…Vind jou vreugde in die Here en HY SAL JOU GEE WAT JOU HART BEGEER.

En tog... ten spyte daarvan dat God ‘n indrukwekkende CV het, verkies ons om op ons eie kragte staat te maak.  Neem God vandag op Sy woord.  Hy is die Een wat verhef.  Dawid was ‘n eenvoudige skaapwagter.  Sy broers het daarna gestreef om koning van Israel te word, maar Dawid het eenvoudig gedoen wat hy moes.  God laat haal hom uit die veld en verhef hom tot koning.

Dien God met jou hele hart en hou aan om te doen wat jy moet doen.  God self sal jou uithaal uit die diepste, vergete put, en jou belangriker maak as wat jy ooit sou kon droom.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...