Thursday 14 February 2019

Keuses


Romeine 8 : 5 – 6  Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees.  Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede.

Daar is die verhaaltjie van twee pasiënte wat in ‘n hospitaalsaal langs mekaar gelê het.  Die een het ‘n uitsig op die venster gehad en elke oggend sou die ander een hom vra hoe dit buite lyk.  Hy sou ‘n pragtige prentjie skets en die man wat die vraag gevra het sou in vervoering na die beskrywing luister.  Hoe dit gebeur het, kan ek nie meer onthou nie, maar op ‘n dag sou hy uitvind dat die persoon wat die pragtige beskrywings gegee het blind was.
 
Jy sien, wanneer ons deur die Gees beheer word sien ons van binne en is alles beeldskoon.  Ons kan net die mens word wat God ons bedoel het om te wees wanneer ons ons gedagtes op die regte dinge rig.  Ons omstandighede bepaal nie ons lewenskwaliteit nie.  Dit bring wel sekere emosies na vore.  Jy kan na jou omstandighede kyk en dit as hopeloos sien en sodoende mismoedig word of jy kan na jou omstandighede kyk en besluit dat dit beslis net beter kan gaan.  Jy kan dus jou emosionele reaksie beheer deur jou gedagtes te beheer.

Dink jy dus jy gaan nooit êrens in die lewe kom nie, sal dit inderdaad so wees.  Dis hoekom drome so belangrik is en hoekom jy groot drome moet droom.  Mense wat dink "the sky's the limit", beperk hulself.  

En dis waar ek verstom staan oor die manier waarop God die mens geskape het.  Hy kon ons geskape het om net opdragte uit te voer, maar Hy wou ons ‘n keuse gee, 'n keuse sonder enige beperkings.  Deur jou denke is daar altyd twee opsies.  Jy kan lewe of dood kies deur jou ingesteldheid.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...