Sunday 17 February 2019

Erken die mense


1 Tessalonisense 5 : 12 Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys.

Hoë bome vang die meeste wind, lui die spreekwoord.  Dit is beslis waar wanneer dit by geestelike leiers kom. 

Mense is gou om hul te kritiseer en dikwels nie net vir hul menslike gedrag nie, maar ook vir dit wat hul op die preekstoel doen.  Ek was al skuldig daaraan dat ek bly was om ‘n sekere dominee op die preekstoel te sien omdat ek geweet het hy preek kort en kragtig.  Met die ander dominee het ek gevoel hy praat hopeloos te lank en ek verstaan in elk geval nie veel van dit wat hy praat nie.  Hoe onsensitief van my en hoe in teëstryd met vandag se vers.  

Die feit dat die dominee se boodskap nie op my van toepassing is nie, beteken nie dat daar nie iemand was wat daardie dag die boodskap nodig gehad het nie.

Om my skuld te versag, kan ek darem noem dat ek ook al meer as een keer vir die prediker ‘n epos geskryf het om te bedank vir ‘n spesifieke boodskap wat ek voel kreatief en met impak oorgedra is.  Is dit nie eerder wat ons moet doen nie?  Opbou eerder as afbreek. 

Geestelike leiers is ook nie gevrywaar van skinderstories nie.  Ons ken die storie dat predikantskinders die stoutste op die dorp is, maar is dit nodig om hul elke beweging dop te hou en te kritiseer as hul soos ons gewone sterflinge ook sondig?  Moet ons nie eerder vir hulle bid nie?

Boonop glo meeste van ons dat ons kerk toe gaan om ‘n boodskap te kry, nie om enige iets in ruil vir die gemeente te doen nie.  Ander kan diegene in nood help, vir siekes gaan kuier, selgroepe stig, fondsinsamelings reël, ons staan net bakhand.  As die dominee nie ons drumpel deurtrap nie, is ons gou om te oordeel dat hulle net kom as hul geldsoek, maar het ons al die dominee geskakel en net vir ‘n koppie koffie oorgenooi, sonder om berading te verwag?

Vandag se teks laat ons so ‘n bietjie ongemaklik rondskuifel, want ons gee min of geen erkenning aan diegene wat ons, in opdrag van die Here, lei en teregwys.  Hierdie mense staan in ‘n roeping.  Vir baie was dit ‘n moeilike besluit om in voltydse bediening te gaan.  

Laat ons hul ophef en ondersteun.


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...