Sunday 10 March 2019

Integriteit


2 Korintiërs 8 : 21  Ons is daarop gesteld om korrek op te tree, nie alleen voor die Here nie, maar ook voor die mense.

Integriteit is ‘n skaars kommoditeit.  Noem my sinies, maar ek glo mense se optrede hang af van wie voor hulle staan. 

Wie van ons kan eerlik sê dat ons gedrag in die kerk voor die dominee presies dieselfde is as wanneer ons met die kassiere in die supermark, die bankklerk, die man wat die dromme skoonmaak te doen kry?  

Van kleins af leer ons dat goeie gedrag beloning inhou.  As daar dus vir ons ‘n vorm van beloning is, tree ons heelwat anders op as wanneer ons op die punt staan om iets te verloor.

Deesdae is betogings aan die orde van die dag en dit raak meer gewelddadig by die minuut.  Gesels jy met mense daaroor, veroordeel almal deur die bank dit.  Nou waar kom die betogers dan vandaan?  Is dit dieselfde mense wat saampraat oor hoe verkeerd vernielsugtigheid is?  Ek glo nie vir een oomblik dat dit net ongelowiges is wat betoog nie?  Of dalk is dit, want as jy ‘n Christen is, sal jy beslis nie so optree as jy Romeine 12 : 10 lees nie:  Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.

In die koerant lees ek van ‘n 21 jarige student wat vullis optel wat betogende studente op die kampus van die Universiteit Vrystaat strooi.  Terwyl hy besig is om op te tel is 2 dames(?) besig om die vullis weer uit te gooi.  Hy sê hy het net sy kop afgehou en aangehou optel omdat hy ‘n verskil wil maak en glo dat dit by hom begin.  Integriteit!  Daarenteen wonder ek oor die studente se optrede wat lelike opmerkings in Sotho gemaak het en gelag het terwyl hul kamerade die vullis uitgooi.  Wie betoon broederliefde, eerbied en is ‘n voorbeeld?  Terloops daar was niemand in sig op wie hierdie jong man ‘n indruk kon maak nie, maar die studente wat dit as grap gesien het, het dit op sosiale media gaan plaas en nou word hierdie jongman oral geloof vir sy voorbeeld.

Integriteit kan maklik getoets word.  Al wat jy moet doen is om jouself af te vra:  “Hoe deursigtig is ek vir ander?”  Hoe tree ek op wanneer niemand my kan sien nie, byvoorbeeld wanneer jy met die oproepsentrum se agent praat?  Het jy mense lief en gebruik dinge, of het jy dinge lief en gebruik mense?  Is jy bereid om moeilike besluite te maak soos byvoorbeeld om nie die geld wat jy opgetel het te hou nie, maar die eienaar te soek.  As jy ‘n mening oor iemand het, deel jy dit met hul in privaatheid of verkondig jy dit aan almal behalwe hulle? 

Daar is nog baie ander vrae, maar dalk is dit genoeg om jou vir eers mee besig te hou.Ons kan almal werk aan hierdie belangrike waarde wat die basis vorm vir soveel ander fasette van menswees.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...