Monday 11 March 2019

Optelgoed is nie hougoed nie


Eksodus 20 : 15  “Jy mag nie steel nie.

So ‘n rukkie gelede moet ek en my man een aand na werk na ‘n plaaslike winkelsentrum gaan om ‘n probleem met sy selfoon uit te sorteer.

Net toe hy in ‘n parkeerruimte wil indraai, sien hy ‘n beursie op die grond lê.  Ons tel dit op en gaan na die sentrum se informasie toonbank waar ons rapporteer dat ons ‘n beursie opgetel het.  Die dametjie stel voor dat ons die beursie hou, maar dat sy ons kontaknommer neem sodat die eienaar ons kan kontak, sou hul navraag doen.  Ons het reeds gesien die beursie behoort aan ‘n student omdat daar ‘n ID boekie en studentekaart binne was, sowel as bankkaarte en kontant.

Tuisgekom stel my seun voor dat ons die persoon op facebook opspoor omdat haar naam op ‘n baie unieke manier gespel word.  Ons vind haar en maak gebruik van die ‘message’ opsie om haar te vra of sy ‘n beursie verloor het.  Binne oomblikke kontak sy ons.  Sy is so dankbaar dat daar nog eerlike mense is wat ‘n beursie optel en nie vir hulself hou nie. 

Ek dog dit is wat verwag word van ons.  Sou ons die beursie hou, kom dit neer op diefstal.  Dit is lynreg in teenstelling met God se wette.  Nie ek of my man het vir een oomblik daaraan gedink om die beursie te hou nie.

Sy het haar beursie kom afhaal en kon ons nie genoeg bedank nie.  Dit gaan nie altyd oor die kontant nie, maar oor die ongerief en onkoste om nuwe kaarte en dokumente te bekom.

Ongelukkig is nie almal ewe eerlik nie.  Sowat twee jaar gelede het ek een oggend in verkeer gesit en besluit toe om handeroom aan te wend.  Ek haal my ringe af en sit dit op my skoot.  Eers later die dag sou ek agterkom dat ek nie meer my ringe aanhet nie.  Dit moes van my skoot afgeval het toe ek uit die motor geklim het in ‘n parkeerarea.  Alhoewel ek teruggegaan het en selfs notas opgesit het vir ‘n beloning, ook facebook gebruik het, het niemand my gekontak oor my twee verlore ringe nie.  Dis net wêreldsgoed, maar dit het sentimentele waarde gehad.  Ek het nooit die ringe laat spesifiseer op my versekring nie, dus kon ek dit ook nie eis nie.  

Dit is eenvoudig... as dit nie aan jou behoort nie, moet dit nie hou nie.  Optelgoed is nie hougoed nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...