Wednesday 6 March 2019

Wees net regverdig!


Johannes 7 : 24  Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.”

Dit neem enkele sekondes vir mense om ‘n opinie van jou te vorm die oomblik wat hul jou die eerste keer ontmoet. 

Dalk besef jy nie eens hoeveel keer jy na iemand gekyk het en binne sekondes besluit het of jy van hulle hou of nie.  Nou as jy goed lyk het jy niks om oor bekommerd te wees nie, maar as jy nie so vol selfvertroue is nie, mag jy dalk uiters senuweeagtig raak as jy hiervan hoor.  Hier’s die goeie nuus:  1 Samuel 16:7  Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

Voor jy nou op jou agtervoete kom en sê dat jy nie God is en nie in mense se harte kan sien nie… Toegegee ja, maar ons kan elkeen iemand ‘n kans gee en nie sommer net afskryf omdat hul op die oog af nie aan ons standaarde voldoen nie.  Ons takseer mense so maklik op hul baadjies.  As jy suksesvol lyk, dan het jy reeds ‘n redelike hoë aansien in meeste mense se oë. 

God moedig ons juis aan om die ‘geringes’ nie eenkant toe te stoot nie. Hy reken juis dat sodra jy iets vir hierdie geringes doen, dit is asof jy dit vir Hom doen.  As ons dus as onbelangrik klassifiseer by die eerste oogopslag is dit asof ons God onbelangrik ag.  Hy het daardie mens ook geskape.  Net omdat daardie persoon nie in staat blyk te wees om vir jou iets te beteken, beteken nie dat hy/sy nie in God se oë belangrik is nie.

Kom ons wees net ‘n slag regverdig en soek die mooi in mense alvorens ons hul oordeel.  As ons ‘n bietjie tyd neem, sal ons agterkom dat ons selfs iets in gemeen met daardie persoon het.  En dink net wat God deur daardie persoon kan laat gebeur!


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...