Monday 4 March 2019

Weet dat jy weet


Johannes 9 : 25  Daarop het hy gesê: “Of hy 'n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”

Jesus sien ‘n man wat blind gebore is.  So dikwels wonder ons, soos die dissipels of ons siekte is as gevolg van sonde wat ons of ons voorvaders gepleeg het, wat nou as straf manifesteer in ons lewens.  Jesus antwoord egter:  “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s'n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.”

Jesus genees die blinde man deur op die grond te spoeg en maak met die spoeg 'n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë.

In plaas daarvan dat die gelowige skare in verwondering is, begin hul argumenteer hoekom die man genees is, hoe hy geheel is en wie geblameer moet word omdat hy in die eerste plek blind was.   Hulle begin die arme man peper met vrae en dit is toe dat die eens blinde die woorde in vandag se teks uiter.

Vir hom was dit eenvoudig, mense kan daaroor argumenteer en dit bevraagteken, maar al wat hy weet is dat hy uiteindelik kan sien. 

Daar mag dalk ook mense in jou lewe wees wat nie die guns wat op jou lewe rus goedmoeds aanvaar nie.  Hulle bevraagteken jou vooruitstrewendheid en geluk.  Hulle glo nie dat God wil hê dat Sy kinders ook suksesvol mag of kan wees nie. 

Soms kan ons nie verduidelik hoekom dinge met ons gebeur nie.  Ons glo slegte dinge is van die bose en goeie dinge is van God. 

Dit is egter nie vir ons om te verstaan nie.  Ons moet Hom net vertrou.  Hy is betrokke en het net goeie planne vir ons en hy kan vandag nog wonderwerke laat gebeur.  As Hy ‘n blinde kan laat sien, kan Hy jou krisis omdraai om ook eendag ‘n getuienis tot Sy eer te word.



No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...