Thursday 30 May 2013

Toewyding & Geesdrif


Rom 12 : 11   Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.

‘n Besigheid wat motiveringsmateriaal verkoop, het telefonies met Tim Dumler 'n onderhoud gevoer. Hy het aan hulle vertel dat dit sy doelwit was om hulle nommer een werknemer te word.

Toe hulle hom in lewende lywe ontmoet, was hulle geskok om uit te vind dat hy byna heeltemal blind was. Hy het hulle egter belowe dat hy 'n masjien sou koop wat letters vergroot. Dus, ten spyte van al hulle twyfel, het hulle hom aangestel.

En dit was een van hulle beste besluite ooit!  Hy het vroeg werk toe gegaan, laat gewerk en binne ses jaar was hy hulle top verkoopspersoon. Sy kliënte was mal oor hom, want wanneer jy blind is, word jy 'n uitstekende luisteraar. Sy kollegas was ook mal oor hom, want hy het 'n positiewe, sorgsame geaardheid gehad. Hy het gesê: "Dit is jammer dat ek visueel gestremd is, maar juis hierdie struikelblok het van my 'n beter mens gemaak. Ek besit veel meer as wat ek nie besit nie."

Tim se gesindheid was die werklike rede vir sy sukses. Wat ‘n voorbeeld is hy nie vir ons nie.  Hoe geesdriftig is jy nog oor jou werk?  Hoe voel jou kollegas oor jou?  Leef Romeine 12 vandag en word ‘n Tim Dumler.

Wednesday 29 May 2013

Vergifnis is die enigste pad na vrede


Psalm 130 : 4  Maar by U ís daar vergifnis…

Een aand nadat sy oor vergifnis gepreek het, het Corrie Ten Boom die man herken wat na haar toe aangestap gekom het.  Hy was 'n voormalige wag van Ravensbruck, 'n Nazi gevangeniskamp waar sy gemartel is en haar suster, Betsie, doodgegaan het.  Toe hy haar vra om hom te vergewe, het Corrie aan Betsie gedink en gevoel dat sy dit net nie kon doen nie.

Tog het sy geweet dat sy moes, anders sou alles waaroor sy gepreek het 'n klug wees.  Sy het gebid: "Here, ek kan my hand na hom toe uitsteek, ek kan ten minste dit doen, maar U sal die opregte gevoel by my moet wek." Sy het die man se hand gevat en gevoel hoe God se krag deur haar vloei en haar in staat stel om opreg te sê: "Ek vergewe jou, my broer."

Corrie het nooit vantevore God se liefde so intens ervaar soos op daardie nag nie.  Alhoewel sy verskriklik gemartel is, het sy God toegelaat om haar te genees en toe ook uitgegaan om ander te help.

Die feit is - vergifnis is die enigste pad na vrede toe!

Tuesday 28 May 2013

Oorvloedige Seen


Maleagi 3 : 10 (OAV)  Ek sal die vensters van die hemel oopmaak en op julle oorvloedige seen uitstort

“Een voordeel om op jou rug te lande te kom as die wereld jou omvergooi, Is dat jy dan net kan opkyk Boontoe…”  ~ Fulton John Sheen

As jy vandag op ‘n punt in jou lewe is waar jy nie herwaarts of derwaarts weet nie, wil ek jou bemoedig met bogenoemde teks.  God is gereed om jou oorvloedig te seen. 

Wat beteken dit as God ons oorvloedig seen?  Dis seen wat alle verstand te bowe gaan.  Dit is voorspoed wanneer jy dit die minste verwag.  Dit is wanneer alles teen jou is en jy soos ‘n mens dink dat niks positief uit hierdie krisis kan voortspruit nie. God se bederf is nie bietjie-bietjie nie.  Hy trek die sluise van die hemel oop.

Wat moet jy doen?  Net geduldig wag en God vertrou. Dis so maklik om te dink God het van jou vergeet, maar vergeet is nie deel van wie Hy is nie.  Sy liefde vir jou ken geen perke nie. 

Dit kos ‘n klomp moed om sake in God se hande te laat…  om volkome in sy hand oor te gee…
Ons lewe, ons planne…om te volg waar Hy ons lei…
Om Sy wil ons s’n te maak… 
Daarteenoor kos dit slegs dwaasheid om die pad alleen te loop…”  ~ Betsey Kline

Monday 27 May 2013

Wanneer dit geen sin maak om kerk toe te gaan


Deuteronomium 5: 12   Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou, soos die Here jou God jou beveel het.

'n Man skryf 'n brief aan 'n tydskrif en kla dat dit vir hom geen sin meer maak om kerk toe te gaan nie.
 
Hy skryf. "Ek gaan al vir meer as 30 jaar kerk toe, ek het gedurende hierdie tydperk na ongeveer 3000 preke geluister, maar ek kan nie een onthou nie. So ek dink ek mors my tyd en die predikante mors hulle tyd deur al hierdie preke voor te berei en Sondag vir Sondag te preek".
 
Die artikel is in die tydskrif gepubliseer en 'n paar weke het verbygegaan voordat iemand soos volg op die artikel geantwoord het.
 
"Ek is reeds 30 jaar getroud. Gedurende my getroude lewe het my vrou ongeveer 32,000 etes voorberei. Maar, net soos jy, kan ek nie een van die spyskaarte onthou nie. Maar dit weet ek, al daardie etes het my gevoed en versterk, as dit nie vir daardie etes was nie, dan sou ek vandag dood gewees het. Dieselfde geld ook vir die kerk. As ek nie gegaan het om geestelik gevoed te word nie sou ek vandag geestelik dood gewees het.
 
Wanneer jy af is, is God besig met iets! Geloof sien die onsigbare, glo die ongelooflike en ontvang die onmoontlike! Dank God vir ons Fisiese en Geestelike voeding. 


(oorsprong onbekend)

Sunday 26 May 2013

Die Skoenlapper


2 Samuel 22 :40  U het my met krag omgord vir die stryd…

Eendag kom ‘n man af op ‘n kokon waar ‘n skoenlapper besig is om uit te broei.  Gefassineer deur die stryd van die skoenlapper het die man aanskou hoe die skoenlapper halfpad oenskynlik die stryd gewonne gee.  Net daar besluit hy om handjie by te sit en met ‘n sker die kokon oop te knip om die skoenlapper te bevry.  Trots aanskou hy die skoenlapper wat daar sit met sy vet geswolle lyfie en nat vlerkies. 

Die man het gewag vir die ‘grand finale’; daardie oomblik dat die skoenlapper sy vlerkies sou sprei en wegfladder, maar niks gebeur nie. Die skoenlapper kon net onbeholpe rondkruip tot hy uiteindelik dood is.  Hierdie man se weldaad het ‘n hartseer nadraai gehad.  Hy het nie verstaan dat die stryd om homself uit die kokon te bevry deel van ‘n skoenlapper se ontwikkeling is nie.  Terwyl ‘n skoenlapper deur die kokon beur, word die vloeistof uit sy lyfie geforseer sodat hy vaartbelyn is om te kan vlieg.

Net so het ons ook soms nodig om te worstel deur moeilike tye sodat ons sterker kan word.  As ons nie beproewinge deurleef nie, sal ons dalk ook net bly rondploeter en nooit ons vlerke sprei om ‘n beeldskone skoenlapper te wees wat tot volle reg gekom het nie.

Volgende keer dat jy moeg gesukkel is, onthou dis presies wat jy nodig het en jy sal hierdeur kom, want God het jou met Sy krag omgord.

Thursday 23 May 2013

God se skepping


Genesis 1 : 25  God het die wilde diere op die aarde gemaak, elkeen na sy aard; ook die mak diere, elkeen na sy aard; en ook al die diere wat kruip, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed.

In Tanzania is daar elke jaar ‘n tyd dat derduisende wildebeeste, zebra’s en ook ander kleiner boksoorte begin migreer na die grasvlaktes van die Serengeti.  Afhangende van die reen, sal hul so middel November begin migreer en dan tot ongeveer April daar bly alvorens hul weer die terugtog aanpak.  Ongelukkig gaan nie al hierdie diere hul bestemming bereik nie.  Van hul gaan deur leeus gevang word.  Ander gaan in oorvol riviere verdrink.  Tog pak hul elke jaar die tog aan na die groener weivelde waar hul genoeg kos en water sal vind sodat die dragtige koeie aan gesonde kalfies die lewe kan skenk. 

Hoe weet hierdie diere wanneer om die tog aan te pak? Hoe weet hulle dat daar groen weivelde sal wees?  Skrik die gevare wat hul die vorige jaar ervaar het hul nie af nie? 

Dis iets wat nie een van ons kan verstaan of verklaar nie, maar ons weet dat God hul so geskape het en dat dit goed was.

So verstaan ons ook nie altyd wat in ons lewens gebeur en hoekom ons daardeur moet gaan nie, maar ons kan verseker weet dat elke deel van die skepping haarfyn deur God beplan is en dat Hy tevrede daarmee is.

Wednesday 22 May 2013

'n Sagte woord


Efesiërs 6 : 9  En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid.

By die werk het ons ‘n dame wat skoonmaak.  Haar naam is Yva en sy is Xhosa-sprekend.  Sy het 2 kinders na wie sy vreeslik verlang, want hulle woon by haar ma in Transkei.  Sy vertel die jongste is maar 2 jaar oud en sy’t haar as baba by haar ma moes agterlaat om in die stad te kom werk.  Paasnaweek wou sy graag huis toe gaan, maar sy’t nie genoeg geld gehad nie, hoor ek onlangs.

Yva is altyd eerste by die werk.  Sy sorg dat alles netjies skoon en op hul plek is.  Teen die tyd dat ons daar kom, het sy al die urn aangesit sodat ons lekker warm water vir koffie het.

Yva is nie net die skoonmaker nie, sy is die klein engel wat seker maak jy het alles wat jy nodig het om jou take te verrig.  Sy’s egter skaam en praat net gebroke Engels.  Groot was haar verbasing toe van ons haar nader om ons Xhosa te leer en nou straal sy as ons ons gebroke Xhosa met haar oefen. Skielik is daar iemand met wie sy kan kommunikeer.

Al lyk en praat Yva nie soos ons nie, is daar veel meer ooreenkomste as verskille wanneer ons mekaar beter leer ken.  Ons het elkeen die behoefte daaraan dat ander ons raaksien as ‘n medemens.

Tuesday 21 May 2013

Vrugte van die Gees


Galasiërs 5 : 22   Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,

In ons kerk is daar ‘n bejaarde egpaar.  Die tannie kan nog maklik stap, maar die oom gebruik ‘n loopraam en hy’t ‘n gehoorapparaat.  Daar was nog nie een Sondag dat ek die tannie ongeduldig sien optree het teenoor die oom nie.

Die karwag groet altyd vriendelik en probeer altyd help om die swaar sakke in die motor te laai, maar sommige mense behandel hul kortaf en meerderwaardig.

In die verkeer kyk ek na mans en vrouens in dieselfde motor.  Elkeen kyk in ‘n ander rigting en dit wil voorkom of daar geen kommunikasie is nie.  Soms sien ek ook mense wat duidelik in ‘n woordewisseling betrokke is.  Min kere is daar diegene wat uit hul maag lag en vrolik gesels.

By die skool waar ouers hul kinders oplaai, sien ek party ouers groet skaars hul kinders as hul in die motors klim, terwyl ander weer soengroet en sommer so hand op die skouer saam die sakke inlaai.

Die kassiere en pakkers by die supermark kyk verbaas na jou as jy hul opreg bedank en tot siens wuif.

Is dit omdat ons almal so vasgevang is in ons eie probleme?  Of het ons vergeet van die vrugte van die gees?

Monday 20 May 2013

Blinde Vertroue


 

Deuteronomium 1 : 32 Maar tog het julle nie julle vertroue gestel in die Here julle God

Wanneer jy spanbou geleenthede bywoon, leer jy hoe om op jou spanlede te vertrou.  Ek onthou van een geleentheid waar ons in spanne van drie opgedeel is.  Twee van die spanlede sou weerskante van jou stelling inneem.  Terwyl jy na die een kyk moes jy jou oë toemaak en met jou hande langs jou sye stadig vorentoe val met die vertroue dat jou spanlid jou sou vang.  Dan moes die een wat jou vang jou weer terugstoot na die ander spanlid.  Terwyl jy met jou rug na hierdie spanlid val met toe oë weereens, was dit ‘n bietjie meer skrikwekkend.  Sou die ander persoon gereed wees?  Meer nog, sou hy/sy in staat wees om my te vang?  Die twee aan weerskante moes ook effe terugtree sodat jy selfs verder voor- en agteroor geval het.  Baie van ons het gegil en ons oë natuurlik oopgemaak. 

Dit het my laat dink hoe ons God ook soms nie genoegsaam vertrou nie.  Ons vergeet so gou hoeveel keer hy ons al ‘gevang’ het.  Hoe gou vergeet ons nie?  Soms dink ons nie eens daaraan om God om hulp te vra nie, want in ons koppe het ons reeds besluit dis onmoontlik. 

Hy is steeds daar.  Leer om Hom te vertrou, met die groot en die klein dingetjies in jou lewe.

Sunday 19 May 2013

Verdraagsaamheid


Kolossense 3 : 12  Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees

Om verdraagsaam te wees beproef soms ‘n mens se Christelikheid.  Ek het ook ‘n broertjie dood aan diegene wat in lang toue kom indruk terwyl jy heel geduldig jou beurt afwag.

Gedurende ‘n staking van moltreindrywers in 2007, moes die publiek van busvervoer gebruik maak.  Net soos hier by ons met die busstakings is die toue baie lank vir alternatiewe vervoer.  

‘n Joernalis, Gareth Edwards, was ook in die ellelange lyn toe ‘n man agter hom in die tou kom indruk (let op, agter hom).  Diegene wat al hoe lank in die tou staan en wag het, het hul ongelukkigheid al morrend laat hoor, maar die man het dikvellig bly staan.  Toe die volgende bus stop, vra die joernalis vir die persoon agter die indrukker (‘n bejaarde dame) of sy nie voor hom wil staan nie en so hou hy aan om elke keer die person agter die indrukker voor hom te laat staan.  Net voor die bejaarde dame in die bus klim, roep sy die joernalis:  “Jongman, hier’s plek voor my.” 

Die joernalis het al die eienskappe in Kolossense 3: 12 uitgeleef en ‘n selfsugtige mens ‘n les geleer wat hy nie gou sal vergeet nie.

Thursday 16 May 2013

Arend of Hoender?


Prediker 7 : 24 Die betekenis van wat gebeur, lê buite bereik, baie diep; wie kan dit vind?

Anthony de Mello het ‘n verhaaltjie geskryf oor ‘n boer wat eendag berg geklim het. Hoog bo-op ‘n krans vind hy ‘n arendsnes met ‘n eier wat nog warm was daarin.  Omdat daar geen arend in sig was nie, besluit die boer om die eier saam te neem plaas toe.  Daar het hy dit vir ‘n hoenderhen gegee om uit te broei. 

Kort voor lank het die klein arend uitgebroei en omdat hy niks anders gewoond was, saam met die hoenders gepik en op die werf rondgeloop, salig onbewus daarvan dat hy nie ‘n hoender is nie. 

Soms het hy verlangend in die lug opgekyk as die arende in die blou lug sweef en verlangend gedink:  “Dit sou darem lekker gewees het om ‘n arend te wees.”

Jy glo ook dalk die negatiewe dinge wat iemand in die verlede vir jou gesê het.  So gaan jy ook salig onbewus deur die lewe en bereik jy nooit jou volle potensiaal nie.  Soms moet ons opkyk om te sien wat God van ons dink.  Hy verwag soveel meer van jou as dit waarvoor jy jouself krediet gee. 

Jy’s eintlik ‘n arend – sprei jou vlerke.  Dit hang van jou af of jy jou doel in die lewe gaan bereik en die ware betekenis vir jou lewe gaan ontdek of bly glo dat jy ‘n ‘hoender’ is.

Wednesday 15 May 2013

Verskuilde Geleenthede


Psalm 106 : 3 Dit gaan goed met mense wat die reg handhaaf, wat by elke geleentheid geregtigheid doen.

Eens op ‘n tyd was daar ‘n koning wat sy volk wou toets.  Hy het ‘n groot rots teen ‘n berg afgerol en dit in die middel van die pad laat beland.  Toe het hy in die bossies langs die pad gaan skuil.  Een na die ander het mense daar opgedaag, uitgeklim en die situasie al morrend staan en bekyk.  Hulle was glad nie beindruk met die stand van die paaie in hul land nie en het die koning blameer wat niks aan die saak doen nie.  Niemand het egter ‘n poging aangewend om die rots te verwyder nie.  

Laat die middag kom ‘n groentesmous op ‘n donkiekar daar aan.  Hy roep die donkies halt en klim af.  Terwyl hy al om die rots loop, klik hy sy tong.  Hy span die donkies uit, maak ‘n tou om die rots vas en por die donkies aan om die rots te sleep.  Met die rots uit die pad, stap hy na waar die rots gelê het, want daar is nou ‘n redelike gat in die pad.  Toe hy naby kom, sien hy ‘n vergulde sakkie daarin lê.  Hy haal dit uit en binne in is daar meer goue muntstukke as wat hy al ooit gesien het.  Daar is ook ‘n nota in wat lees:  “In elke probleem, skuil daar ‘n geleentheid.  Dankie goeie kneg.  Die beloning is vir jou.”

As jy na die stand van sake in ons land kyk, is daar ook genoeg rede om te kla en te blameer, maar hoeveel van ons rol moue op en doen iets om die situasie te verbeter.  Ons mag dalk nie ‘n sakkie met goue muntstukke daarin aantref nie, maar ek is seker ons Koning sal baie beindruk met ons wees.

Tuesday 14 May 2013

Helpende Hand


Deuteronomium 24 : 13 … en die Here jou God sal jou optrede goedvind….

Daar was ‘n ma in Pole wie se seun klavierlesse geneem het en omdat hy werklike talent getoon het, het sy ingestem om vir hul kaartjies te kry na ‘n konsert van die beroemde pianis, Ignace Paderewski. 

By die teater vind hul sitplekke en die ma begin met ‘n vriendin gesels wat sy lank laas gesien het.  Natuurlik gebruik die seun die kans om weg te glip en toe die gordyne oopgaan sit hy agter die Steinway en tokkel “Twinkle, twinkle, little star”.  Die ma se hart het amper gaan staan, maar toe sy tot verhaal kom, was dit reeds te laat.  Die pianis was op die verhoog, maar in plaas van die kind verjaag, het hy beduie die outjie moet voortspeel.

Met sy een hand begin hy die basnote bywerk en later vou die ander arm agter om die seun en begin hy ook die hoër note bywerk.  Terwyl die konsertsaal vasgenael sit en kyk, speel die veteraan en die jongeling harmonieus saam.  Die kleintjie straal van bewondering en geniet elke oomblik.  Noodloos om te sê die jong rakker het jare later groot hoogtes op sy eie bereik omdat iemand soos Ignace iets in hom gesien het.

Ons weet nooit watter invloed ons dade op ‘n ander het nie.  Ons optrede kan egter iemand se droom vlerke gee of dit kan iemand vir altyd ontmoedig.

Monday 13 May 2013

Skinder


Spreuke 16 : 28 Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende.

‘n Man het eendag by die groot filosoof, Sokrates aangekom met die woorde:  “Weet jy wat het ek nou net van jou vriend gehoor?”  Sokrates sê toe vir hom dat hy na die storie al luister, maar eers moes die man dit aan die Driedubbele-filter toets onderwerp.

“Ja, as jy by my oor my vriend wil skinder moet jy dit aan 3 filters toets.  Jy moet die storie toets aan die waarheid, jou bedoeling en die waarde van die storie.”  Die man het hom vraend aangekyk en toe verduidelik Sokrates.

“Die eerste filter is die ‘waarheid’ filter.  Is jy doodseker dat dit wat jy my nou gaan vertel die waarheid is?  Dan moet jy jouself ook afvra of dit wat jy oor my vriend te sê het goed bedoel is en laastens moet jy jouself afvra watter nut het dit wat jy vir my wil vertel oor hom?"  Sokrates het hom reguit in die oë gekyk en die man het ongemaklik gevroetel.

“Wel,” het Sokrates hom aangepor.

Die man het net gemompel dat hy dit maar moet vergeet.

Hoeveel keer vertel ons sommer net ‘n storie oor en las dalk nog ‘n stertjie by.  As ons nie doodseker van die waarheid is nie, dit nie goed bedoel is nie en van geen nut vir die hoorder is nie, hoekom enigsins dit oorvertel?  Gebruik gerus die driedubbele-filter toets volgende keer as jy brand om 'n sappige brokkie oor te vertel.

Sunday 12 May 2013

Mammalief, vir jou

Op paaie van die verlede
lei gedagtes na die hede
onthou ek weer my kinderdae
sorgvry, 'n lewe vol van lag
met stories voor slaaptyd
en 'n moeder sag
altyd daar om 'n traantjie af te vee
en 'n seerplek reg te soen

Mammalief, vir jou hierdie Angelier
dit kom met baie liefde
al die dankies in die wêreld kom
met hierdie Angelier
Mammalief, vir jou, net vir jou
hierdie Angelier, net vir jou

Onthou u ook soms
dink u ook met heimwee t'rug
die jare van opstand
toe ek altyd beter sou weet
met alle mag en mening
wou ek groot word
die lewe stormloop
die toekoms tegemoet

Uiteindelik is dit my beurt
het die storms uitgewoed
kan ek met 'n glimlag t'rugkyk
dit was als die moeite werd
vandag kan ek vergoed
vir al die liefde en trou
met 'n glimlag en onthou
ek is baie lief vir jou

Mammalief, vir jou hierdie Angelier
dit kom met baie liefde
al die dankies in die wêreld kom
met hierdie Angelier
Mammalief, vir jou, net vir jou
hierdie Angelier, net vir jou

Thursday 9 May 2013

Om te glo ten spyte van


Hebreers 11:1  "om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop...
om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie..."

Dit is nie maklik om te glo nie.  God kom nie kuier en sit en praat met jou nie.  Jy kan nie ‘n telefoon optel en Hom skakel of ‘n epos/sms/bbm stuur en ‘n antwoord, op skrif, terug ontvang nie. 
 
Ons leef in ‘n wêreld waar dinge vinnig gebeur en daarom verwag ons dat God ook dadelik moet antwoord of uitkoms gee.  Om in ‘n God te glo wat jy nie kan sien, of mee normaal kommunikeer nie , is moeilik.  Sien is immers glo. 
 
Ook die ongelowige Thomas wou eers sy vingers in die wonde druk voor hy geglo het dat dit Jesus is wat uit die dood opgestaan het.  Iemand wat die dood oorwin, is tog ongehoord.  God verwag dat ons glo ten spyte daarvan dat ander ons anders probeer oortuig. 
 
Sommige mense kan baie oortuigend wees as hul God se bestaan bevraagteken.  Geloof is ‘n werkwoord.  Dit is om te volhard en te glo ten spyte van, nie ter wille van nie.

Wednesday 8 May 2013

Om Jesus te volg


Markus 8 : 34  As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.

Om God te volg, moet jy bereid wees om alles agter te laat.  Niks neem voorkeur bo Hom nie.  Dit verg algehele toewyding van jou en natuurlik opoffering, maar uiteindelik is die beloning die ewige lewe. 
 
Oor die eeue heen het menige gelowige hul lewens verloor ter wille van hul geloof.  Sendelinge waag hul lewens om die Woord te verkondig.  Wat doen jy?  Volg jy Hom?  Leef jy volgens Sy wil?  Dit mag vir jou ook moeilik wees of jy mag dalk voel dat jy nie goed genoeg is nie. 
 
Jesus het Sy dissipels geleer alvorens Hy hul gevra het om die Woord uit te dra tot aan die uithoeke van die aarde.  Hy vra nie dat jy lei nie, eerder dat jy Hom, die goeie Herder volg.  Hy sal nooit meer van jou vra as waarmee Hy jou toegerus het nie.

Tuesday 7 May 2013

Hanna

Hanna was desperaat.  Sy het geweën en nie geëet nie (1 Sam 1:8) so desperaat wou sy ‘n kind gehad het.  Deurentyd het sy besef dat sy ‘n almagtige God dien en dat Hy haar dit kan gee wat sy met haar hele hart na gesmag het. 

In gehoorsaamheid het Hanna haarself minder gemaak en haar afhanklikheid van Hom besef (vers 15 – ek het my siel voor die Here uitgestort), sodat Hy meer kon word in haar lewe.  God het Sy hand na haar uitgesteek.  Hy het geseëvier en sy het haar kind gekry. (Vers 20 hom Samuel genoem; want,het sy gesê, ek het hom van die HERE gebid).  

God hoor die gebed van ‘n regverdige.  Hy weet wat jy wil hê nog voor jy gevra het.  As God ‘n ereplek in jou lewe het, jy Hom daagliks aanbid, volgens Sy woord leef, in voortdurende gesprek met Hom is, sal Hy jou gebed verhoor.  Hy wil jou gelukkig sien.  Hy wil jou seën

Monday 6 May 2013

Is jy 'n hamster?

Wie op die Here vertrou, omvou Hy met liefde Ps 32:10

Het jy al ooit na ‘n hamster gekyk wanneer hy op sy wieletjie hardloop?  Alhoewel hy alles insit, kom hy nêrens. 
 
Ons doen presies dieselfde.  Ons hardloop soos ‘n hamster op ‘n wieletjie met ons probleme, val doodmoeg van die wieletjie af in die bed, staan met loodvoete op, strompel werk toe, klim op die wieletjie, hardloop voluit, klim doodmoeg af...  Dis genoeg om jou moeg te maak;  kragteloos.  Geen wonder ons voel verlore en asof ons alleen die stryd stry nie? 
 
Die oplossing is so voor die hand liggend dat ons dit totaal miskyk.  Vra vir Jesus.  Here, U ken my nood.  Voor ek U nog vra, weet U alreeds wat ek nodig het.  Here, neem asb beheer van my lewe, maak my rustig...  Ek vertrou volkome op U.

Sunday 5 May 2013

Ware skatte


Matt 6 : 20 Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.

Nie een van ons sal een enkele item kan saamneem wanneer ons sterf nie.  Praat met enigiemand op hul sterfbed en nie een van hulle sal noem dat hulle wens hulle kon gou winkel toe gaan om die een of ander besitting te koop nie.  Hulle sal eerder noem dat hul spyt is dat hul dalk nog nie ‘n saak met iemand uitgeklaar het nie. 
 
Tog woed die stryd om meer te besit voort.  Mense sal mekaar vertrap by ‘n uitverkoping.  Ander spog weer omdat hul die ‘bargain’ van ‘n leeftyd ten koste van ‘n ander bekom het.  Kyk maar net na die onenigheid wat daar onstaan oor ‘n testament nadat ‘n geliefde afgesterf het.  Dis ‘n gejaag na wind.  Ware skatte het geen monetêre waarde nie.
 
 

Thursday 2 May 2013

Vergifnis

Kolossense 3 : 13 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

Jimmy het te veel gedrink en by 'n partytjie sy vrou, Lisa, in die verleentheid gebring.  Die volgende oggend was hy spyt daaroor en het om vergifnis gevra.  Sy het gesê sy sal hom vergewe, maar tog aangehou om op elke moontlike en onmoontlike tyd daarna te verwys.  

Op 'n dag het hy moedeloos vir haar gevra: "Ek het gedink jy gaan vergewe en vergeet." Sy het hom geantwoord: "Ek het, ek wil net nie hê dat jy moet vergeet dat ek vergewe en vergeet het nie."

Herken jy dalk jouself in hierdie staaltjie?  Wat beteken vergifnis vir jou?  Het jy vergewe maar nog nie vergewe nie?  Sê jy jy’t vergewe, maar jy haal die ou koeie nog steeds uit die sloot uit?  Dalk gebruik jy dit selfs as 'n wapen wat jy elke nou en dan uithaal om jou mag te vertoon. 

Vergifnis beteken om dit wat gebeur het te ignoreer asof dit nooit gebeur het nie en so op te tree teenoor die ander person soos voor die gebeurtenis.  As ons Here dit kon doen, kan ons dit ook doen omdat Hy ons die krag daarvoor sal gee.  Hy sal dit uit jou geheue verban en ‘n nuwe liefde binne jou kweek.

Wednesday 1 May 2013

Dankbaarheid

Deuteronomium 28 : 2 “As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk.

Ons ou volkie kan darem lekker kla, sommer vir die eerste, tweede en derde span.  Ons kla oor die koue, die hitte, die swak rand, die olieprys, swak publieke vervoer, chaos in skole, ons paaie se toestand, munisipaliteite se agteruitgang, ons baas, as ons span verloor, ons salaris, kospryse… ens, ens, ens.

Op 'n Geloofsvroue-konferesie was daar 150 plekke te min en die personeel het nog stoele in die saal ingebring om die probleem op te los.  Almal het gaan sit, maar die gaste was beknop en het onderlangs gebrom. Die voorsitter het aan die gasspreker, Joni Eareckson Tada, gevra om te help om die gemoedere te kalmeer.  

Joni was as kind in 'n duik-ongeluk wat veroorsaak het dat sy as 'n kwadrupleeg, vasgekluister in 'n rolstoel, deur die lewe moes gaan. Uit haar rolstoel spreek sy hulle toe:: "Ek besef dat van julle nie juis tevrede is met die stoel waarop julle sit nie. Wel, ek ook nie! Maar ek het duisende gestremde vriende wat enige tyd alte bly sal wees om plekke met julle te ruil."

Jy kon ‘n speld hoor val...  Wanneer jy jou seëninge tel, is daar nie tyd om te kla nie.  Selfs al gaan dit hoe sleg met ons, is daar steeds rede tot dankbaarheid.

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...